Vermiste kinders: statistieke lyk al hoe beter

Argieffoto

Argieffoto

Volgens statistieke wat die organisasie Missing Children South Africa verlede maand bekendgemaak het, was daar in 2015 ʼn aansienlike daling in die aanmelding van vermiste persone.

Dié organisasie sê 660 gevalle van vermiste persone is in 2015 by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangemeld. Dié syfer is aansienlik kleiner as die 1 697 persone wat in 2014 as vermis aangemeld is.

Nicky Rheeder, woordvoerder van Missing Children SA, sê hoewel ʼn gedeelte van die vermiste persone slagoffers van ontvoering is, is kinders wat wegloop van die huis of ouers wat hul kinders op die een of ander manier verloor ʼn beduidende deel van dié syfer. Rheeder meen dié aantal kinders laat die statistieke dikwels erger lyk as wat dit werklik is.

“Sommige kinders kry swaar weens te veel en onregverdige verantwoordelikheid wat op hulle geplaas word. Ander word mishandel. Daar is verskeie redes waarom kinders wegloop en ons ag hul redes net so belangrik soos enige ander kind wat vermis word,” sê sy.

Sy sê kinders word veral by strandoorde tydens familievakansies as vermis aangemeld. “Gedurende vakansietye sien ons ongelooflik baie kinders wat hul ouers nie op die strande kan vind nie. Baie kinders word dus agtergelaat en dan moet die polisie en ander instansies die ouers probeer opspoor.”

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, het onlangs aan die Daily Voice gesê hoewel die statistieke steeds ʼn groot aantal vermiste persone aandui, begin die situasie stelselmatig al hoe beter lyk.

“Meer en meer kinders word in ʼn vroeë stadium ongedeerd opgespoor. Altesaam 195 persone is in die Wes-Kaap in 2015 as vermis aangemeld en 188 van dié persone is opgespoor,” het Rechner gesê.

Sy het ook gewaarsku teen misleidende statistieke wat ouers op hol jaag oor vermiste kinders. “Pink Ladies se statistieke is akkuraat, omdat ons die profiele van mense van die stelsel verwyder wanneer hulle opgespoor word. Een van die grootste probleme is dat mense nie die polisie inlig wanneer vermiste mense gevind word nie. Die werklike statistieke is nie so sleg soos wat dit voorgestel word nie.”

Volgens die verslag van die Missing Children SA word die meeste persone in die Wes-Kaap en Gauteng as vermis aangemeld. Hoewel dié organisasie in 68% van die gevalle die vermiste kinders terugbesorg aan hul families, is daar wel verskeie gevalle waar kinders verkrag of mishandel word.

Rheeder beklemtoon die belangrikheid daarvan om kinders in te lig om hulself te beskerm. “Ouers moet hul kinders inlig oor wat om te doen om uit gevaarlike situasies te bly en hulle daarvan bewus te maak dat gevaar nie altyd as gevaar voorkom nie – dikwels is dit die prentjiemooi situasie wat die meeste gevaar inhou.”

Rheeder sê dat ouers ʼn veiligheidsplan moet hê vir wanneer kinders vermis raak of wanneer daar iets onvoorsiens gebeur.

“Leer jou kinders wat om te doen as hulle by ’n spesifieke plek wegraak en jou nie kan vind nie. Lig hulle ook in oor wat om te doen wanneer hulle dalk ontvoer word.”

Ouers hoef byvoorbeeld nie 24 uur te wag voordat hulle ʼn kind as vermis aanmeld nie, en kan daarop aandring om met iemand anders aan diens te praat indien daar nie aan hul versoek voldoen word nie.

Vir veiligheidswenke of inligting besoek Missing Children SA se webwerf. Die Pink Ladies kan gekontak word per e-pos by [email protected] of by hul 24-uur noodlyn by 072 214 7439.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Adriaan ·

Maak dit eenvoudig verpligtend dat kinders onder sekere ouderdom een of ander vorm van identifikasie en kontaknr dra. Was onlangs by oord waar elke kind onder 12 ‘n netjiese rubberbandjie met sy naam en ouers se kontaknr onuitwisbaar op gehad. weet dis nie 100% oplossing nie maar dit het baie goed gewerk, kinders wat verdwaal het is binne minute met hulle ouers verenig. Die bandjies was so gewild dat selfs ouer kinders dit wou dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.