Vermiste kleuter: ‘Kersfees kom nader en my moed raak op’

Die driejarige Liam

Die verdwyning van die kleuter, Liam Nortjé, word nou ook deur die bekende spesialis-ondersoeker, Mike Bolhuis, ondersoek en hy is vasbeslote om die saak op te los.

Liam het in November saam met sy pa, Nantes Nortjé (47), verdwyn en word sedertdien vermis. Nortjé is in Julie in Ladysmith in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem, maar daar was geen teken van Liam nie.

Nortjé het destyds gesê hy het die kind vir mense gegee wat nie kinders kan kry nie, maar weier om enigsins meer inligting bekend te maak.

Bolhuis het aan Maroela Media gesê hy en sy span sal ʼn algehele herondersoek van Liam se saak doen. “Ons sal heeltemal van voor af begin. Ons sal nou die mense ondersoek wat die naaste aan Liam was, so die familie en vriende is eerste. Ons vermoed die misdaad wat gepleeg is, is direk verbind met die mense naaste aan hom.”

Bolhuis is deur die familie genader om die saak te ondersoek. Liam se oudste suster, Wynette (19), het Bolhuis genader en sekere familielede is reeds regstreeks in kontak met hom.

“Ek het verlede week besluit om met Mike kontak te maak omdat dit nou baie erg raak vir ons; dit raak te lank. Hoe langer Liam weg is, hoe groter die skade. Ons kan nie meer so aangaan nie. Dit voel of ons nog net so min weet soos die eerste dag dat hy weg is; daar is geen nuwe leidrade nie, so ons het ander hulp nodig,” het Wynette gesê.

Wynette het gesê hulle gesin het verlede jaar rééds een Kersfees sonder Liam deurgebring en dat hulle nie wil hê dit moet weer gebeur nie. “Ons het verlede jaar op Kersdag gebid en vir Jesus gevra dat ons net die volgende Kersfees saam met Liam kan wees. En nou raak die tyd baie min voor Kersfees; dis baie erg vir ons, dit raak net moeiliker.”

“Noudat hy [Mike Bolhuis] die saak gaan ondersoek, het ek meer moed. Ek is baie positief daaroor. Ons moet nou nog net al die geld bymekaarkry om dit te laat gebeur,” het sy gesê.

Cheinelle saam met Liam.

Liam se ma, Cheinelle, het wel gesê sý begin nou moed verloor. “My gemoed is af, dit is baie erg. Ek probeer sterk bly vir my dogters, maar mens raak angstig. My dogters is ook angstig om hul boetie te kry.”

Bolhuis het gesê dit is nie ongewoon dat só ʼn soort saak na hom kom nie. “Dis maar hoe dit gebeur in ons land. As die mense in beheer nie iets bereik nie, kom mense na ons toe. Hierdie babasake is vir my baie erger as grootmenssake, so ons is vasbeslote om die saak af te handel.

“’n Persoon bekend as ‘Quinton’ het glo gesê Nortjé het vir hom ʼn vervalste geboortesertifikaat van die vermiste kind in die tronk gewys. ‘Quinton’ het ook gesê Nortjé het hom vertel dat hy die kind se naam verander het en dat die kind verkoop is aan mense in Ladysmith.”

Volgens Bolhuis het Wynette met haar pa in die tronk gesels. Hy praat steeds van Liam in die teenwoordige tyd en verwys dus nie na hom op ʼn manier wat aanduiding gee dat hy dalk dood is nie.

Bolhuis het gesê sy span volg reeds twee leidrade op en daar is ʼn klein bietjie nuwe inligting beskikbaar. Dit is egter moeilik om meer inligting daaroor te kry omdat dit so ʼn sensitiewe saak is.

Bolhuis en sy span oorweeg dit om ʼn beloning uit te reik vir inligting wat daartoe kan lei dat Liam gevind word.

Enigiemand met inligting oor waar Liam moontlik kan wees, kan Bolhuis bel by 082 447 6116. Ander kontakpersone in die saak is kol. Lekhoali Thito by 082 414 9736, of Tania of Wendy van die Suid-Afrikaanse ondersteuningsinisiatief (Sasi) by 084 830 1031 of 064 648 1577.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wonner ·

Besef die mense wat hom het dat hulle ook tronk toe kan gaan!!!! Hulle moes tog al sy foto gesien het?

Peanut ·

Kan klein Liam se susters nie met skarefinansiering soos Backabuddy begin om n beloning bymekaar te maak nie.

Zettie ·

Bolhuis vir President!!!!!! Ek hoop die ou seuntjie word lewend en ongedeerd opgespoor……

Mandie ·

God weet presies waar klein Liam is en Hy het hom bitter lief. Laat ons bid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.