Vermiste KZN-vrou in lykshuis gevind

Welile Mhlungu (Foto: SAPD)

ʼn 21-jarige vrou van KwaZulu-Natal wat twee weke gelede verdwyn het, is dood aangetref in ʼn staatslykhuis in Phoenix, noord van Durban.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê Welile Nomcebo Mhlungu, van Umlazi, was betrokke in ʼn ongeluk op ʼn snelweg en het aan haar beserings beswyk. Sy is dieselfde dag, op 15 Oktober, as vermis aangemeld ná sy haar huis om 04:30 verlaat het op pad werk toe by ʼn konstruksiemaatskappy in Verulam, maar nooit by die werk opgedaag het nie. Sy het ʼn blou oorpak en stewels aangehad.

“Tydens die ondersoek is daar bepaal Welile was in ʼn botsing op die M4 betrokke. Ondersoekbeamptes het Dinsdag die verbintenis gemaak en lede van haar familie het haar Woensdagoggend uitgeken. ʼn Saak van strafbare manslag word nou deur Phoenix-polisie ondersoek,” het Gwala bygevoeg.

Sobahle Sphe Mahlobo, Mhlungu se sussie, het haar verdwyning ook op sosiale media bekend gemaak. Sy het bevestig die familie het Welile se liggaam uitgeken. “Dankie vir al julle gebede en ondersteuning. Die polisie het my sussie se liggaam in ʼn staatslykshuis in Phoenix, Durban, gevind. Ons het nou berusting gevind. Mag sy in vrede rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.