Die Vrystaatse streeklanddros wat sedert Vrydagoggend vermis was, se liggaam is in die kattebak van ʼn motor by ʼn gastehuis in Lesotho opgespoor.
Mamello Thamae (40), streeklanddros op Heilbron, se man is intussen in hegtenis geneem in verband met haar moord.
Volgens kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, is die egpaar se vermiste motor by ʼn gastehuis in Mokhotlong opgespoor en Thamae se liggaam in die kattebak gevind. Haar man is deur die polisie in Lesotho in hegtenis geneem en sal na Suid-Afrika uitgelewer word om hier op ʼn aanklag van moord tereg te staan. Die ondersoek na die voorval duur voort.
Daar is vroeër berig dat ʼn uitgebreide soektog deur die polisie begin is nadat Thamae en haar man spoorloos verdwyn het.
Thamae het glo Donderdagaand by haar huis in Heilbron aangekom en daar is beweer dat haar motor Vrydag omstreeks 04:00 weer by die erf uit is.
Klere en ʼn selfoon van Thamae se man is uit die huis vermis, terwyl Thamae se selfoon en klere nog in die huis was.