Vermiste Limpopo-meisie dood gevind

Reneilwe Makomoto. Foto: Verskaf

Reneilwe Makomoto. Foto: Verskaf

Die tienjarige meisie van Limpopo wat verlede Dinsdag spoorloos verdwyn het, se liggaam is gevind.

Die meisie, Reneilwe Makomoto, is verlede Dinsdag om 14:00 vir die laaste keer in Capricornpark in die Morebeng-omgewing gesien waar sy saam met haar maats gespeel het. Sy het aan hulle gesê sy gaan huis toe, maar het nooit daar opgedaag nie.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê twee bejaarde vroue wat hout versamel het, het Maandagmiddag op Reneilwe se liggaam in ʼn digbeboste gebied buite die Ratsaka-nedersetting, ook in die Morebeng-omgewing, afgekom.

“Die oorsaak van haar dood is nie bekend nie en sal deur ʼn nadoodse ondersoek bepaal word,” het Otto gesê. “Familielede het reeds haar liggaam uitgeken, maar DNS-toetse sal gedoen word om haar identiteit te bevestig.”

Otto het gesê die polisie doen in die stadium ʼn geregtelike doodsondersoek.

Reneilwe se liggaam is gevind byna ʼn week nadat ʼn ontvoerde seun, Hluvuko Design Vukeya (7), se liggaam in ʼn beesdipsloot gevind is.

Morebeng is sowat 50 km van die Olifantshoek-nedersetting, wes van Giyani, waar Hluvuko se liggaam gevind is. Hy is verlede Sondag omstreeks 15:00 in Olifantshoek ontvoer terwyl hy saam met maatjies gespeel het. ʼn Rooi motor het na bewering in die straat stilgehou en die bestuurder het die seun gevra om in die motor te klim, waarna hy met hom weggery het. Sy liggaam is verlede Dinsdag in ʼn beesdipsloot in die omgewing gevind, waar hy in die water gedryf het. Sy moordondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

God vergewe jou baie dinge, maar die leed wat jy ‘n kind aan doen nooit.

Arsène Lupin ·

Dis asof daar net meer en meer berigte deesdae is oor kinders wat wegraak, en wie se liggame later gevind word. Mag die skuldiges spoedig aangekeer word.

Maritza ·

Dit bly n hartseer storie, geen kind is veilig meer nie dis verskriklik.

Raymond Bastone ·

AiAiAi!!” Dit is nou wragtig on nodig om n kind te vermoor Nee Nee Dan sommer 2 kinders. Ouers pas julle kinders op en hulle speel nie sonder toesig nie want daar is iets fout. Satan is los. Bid vir julle sterkte toe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.