ʼn 84-jarige man van Hankey in die Oos-Kaap is vandeesweek ongedeerd deur ondersoekspanne en lede van die polisie opgespoor.
Die man, wie se naam nie bekend is nie, het op 22 Julie vermis geraak nadat hy en sy familie ʼn bidsessie gehou het.
Kapt. Gerda Swart, woordvoerder van die polisie, sê die man het “deurmekaar” geraak en kon nie onthou waar hy was nie.
“Die oom is oud en hy was baie deurmekaar. Hy het toe afgedwaal van sy familie en hulle kon hom nie weer opspoor nie. Dit is sy seun wat die polisie gekontak het omdat hulle angsbevange was,” het Swart gesê.
Verskeie ondersoekspanne, insluitend lede van die polisie en die honde-eenheid, het onverpoosd na die man gesoek.
“Nadat die soektog ʼn paar keer afgelas is omdat die terrein onherbergsaam is en dit te donker geraak het, is die man in ʼn sloot gevind sowat 1,5 km van waar hy en sy familie vergader het. Hy was koud en geskok en het ʼn paar krapmerke gehad, maar was nie in gevaar nie. Hy is egter dadelik na die hospitaal geneem vir mediese behandeling.”
Swart sê dit is ʼn wonderwerk dat die man ongedeerd is ná vier nagte in die bibberweer.
Die Humansdorp-bevelvoerder, brig. John Lebok, het die ondersoekspanne geprys vir hulle harde werk.
Ai dis wonderlik dat hulle die oom gekry het. Baie bly dat hy ok is. Dankie SAPS! Great werk!
Daar raak nou kort kort iemand weg. Dit was of nie so vroeër nie of dit het nie so dikwels koerante gehaal nie. Wat gaan aan? Mense raak weg teen ‘n tempo asof dit ‘n nuwe mode is.