Vermiste man dae later in rotsskeur op plaas gevind

Foto: Verskaf.

Louis Strydom (38), die man wat sedert verlede Donderdag vermis was, is Dinsdag in ʼn rotsskeur op ʼn plaas buite Bethlehem in die Vrystaat gevind.

Johan Scheepers, die boer op wie se plaas Strydom vermis geraak het, het gesê Strydom het hom Donderdagoggend gebel en gevra of hy grondmonsters kan versamel op die plaas. Strydom is ʼn grondkundige en kom gereeld op Scheepers se plaas.

“Ek het my werkers gebel en hulle gewaarsku dat iemand op die plaas gaan rondry en dat ek daarvan bewus is.” Scheepers sê sy voorman het hom Maandag gebel en gesê daar is ʼn draad platgery en dit lyk of ʼn wiel daaroor is.

“Ek het die boodskap gekry van Louis wat vermis is en het dadelik die werkers gevra of hulle iets gesien het. Hulle almal het gesê hulle het net die bakkie sien inry en nie uitry nie.”

Scheepers het die Suid-Afrikaanse ondersteuningsinisiatief (Sasi) in kennis gestel. “Ek het begin ry uit Fouriesburg, maar het solank vir hulle vertel waar die platgeryde draad aangetref is en hulle het vooruit gery en na hom begin soek.”

Isoldé Laesecke, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, en haar kollega Ruan Steinboel het die omgewing gefynkam en eers Strydom se voertuig opgespoor, daarna sy voetspore gevolg en hom uiteindelik in die rotsskeur gevind waar ʼn rots op hom geval en hom vasgepen het.

Volgens Laesecke het dit aanvanklik gelyk of Strydom reeds dood is, maar by nadere ondersoek kon hulle egter sien hy leef nog en die nooddienste is onmiddellik ontbied.

Scheepers vertel hy het omstreeks 14:00 daar aangekom en vir Strydom hoor hoes. “Ek was nog nooit so bly om iemand te hoor hoes nie.”

Laesecke sê dat dit reddingswerkers sowat drie uur geneem het om Strydom te stabiliseer en onder die rots uit te kry. Hy is omstreeks 18:00 deur Emer-G-Med na die Hoogland Mediclinic geneem waar hy tans aansterk. Strydom was erg gedehidreer, maar het verder geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Ons verneem dat hy tot vyf dae sonder kos of water onder die rots vasgekeer was. Dit is ’n wonderwerk dat hy nog leef,” sê Laesecke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Weereens ‘n bewys hoe skielik dinge kan skeefloop. Maak altyd seker dat mense ingelig is oor jou bewegings al skyn dit veilig te wees. Op staproetes is ‘n minimum van drie- maar verkieslik vier stappers ‘n veilige benadering. Veral op wildernis staproetes is dit ‘n onbetwiste vereiste vir jou eie veiligheid. Moet ook nie dat stappers die een ‘wegstap’ vir ‘n ander. So kan ek aangaan met nog veiligheidsvereistes.
Met die lees van die berig het ek dadelik gedink aan Aron Ralston wat in Amerika sy eie arm moes amputeer wat ook deur ‘n rots vasgeval was. Ek het in Amerika sy boek “Between a Rock and a Hard Place” gekoop. Gaan kyk egter by https://www.youtube.com/results?search_query=aron+ralston
Indien jy nie hiervan weet is dit die moeite werd om dit te lees en ook daaruit ‘n les te leer.

Ditto ·

Peet, ek het aan dieselfde storie gedink. Daar was ‘n fliek gemaak daaroor, 127 hours. Ek is net bly hy is veilig, en jammer vir wat hy moes deurgaan

Sarie ·

Dank die HERE dat hy gered is… Dit moes ñ bàie traumatiese ervaring gewees het. Mense verskil van sienswyse, maar èk glò aan ñ Hoër Hand….

Basjan ·

Isoldé, jy is ‘n YSTER! Dankie vir jou en almal wat by die reddings-aksie betrokke was! Onbaatsugtige diens aan jul medemens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.