Vermiste man se motor aan verdagtes gegee

Wayne Alberts

Wayne Alberts

Wayne Alberts (32) het op 14 Februarie spoorloos verdwyn op pad na sy ouers se huis in Boksburg. Drie mense is twee dae later in Sunnyside, Pretoria, in die motor waarmee Alberts gery het, aangekeer.

Leon van Lingen, Alberts se pa, het aan Maroela Media gesê daar is ʼn vuurwapen, dwelms en elektriese kabels in die silwer BMW gevind. Die BMW is in Van Lingen se naam geregistreer.

Volgens kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, is die drie verdagtes in hegtenis geneem en aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Weilbach het gesê die verdagtes het op 18 Februarie in die hof verskyn. “Die saak is deur die hof teruggetrek vir verdere ondersoek,” het sy gesê. Die verdagtes is hierna vrygelaat.

Volgens Van Lingen het een van die verdagtes ná hul vrylating na die Sunnyside-polisiekantoor teruggekeer vir die BMW. “Hoe is dit moontlik dat hulle net die motor kon vat? Die motor is geskut en moet deur die geregistreerde eienaar uitgeteken word,” het hy gesê.

Volgens Van Lingen het die verdagtes hierna die motor vir hul prokureur as betaling gegee.

Van Lingen is op 1 Maart deur die polisie gekontak en meegedeel dat die motor by die prokureur is. Van Lingen het toe saam met die prokureur na Giyani in Limpopo gery om die motor, wat daar geberg is, te gaan haal.

Volgens Van Lingen het ʼn vrou op 15 Februarie Alberts se foon geantwoord. Die vrou het aan Alberts se vrou gesê hy slaap. Die foon is sedertdien af. “Wayne word nou al vir vyf weke vermis. Partykeer kry ons inligting dat hy nog leef, ander keer inligting dat hy definitief dood is. Ons sal nie ophou glo tot ons een of ander uitslag kry nie.” Van Lingen het gesê dit is ook baie moeilik vir sy seun se vrou en hul drie dogters.

Kapt. Weilbach het bevestig dat die ondersoek voortgaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Net die dwelms alleen sou hulle laat sit het in menige ander lande MAAR nie in SA. Laat mens wonder.

At ·

Ek kan dit eenvoudig net nie glo nie, dis nie net die polisie nie dis die hof ook wat hulle eenvoudig net laat loop. Daardie prokureur moet ook toegesluit word vir ontvangs van gesteelde eiendom.

At ·

Dit is nie net die Polisie se nalatigheid nie maar die hof sin ook, hoe kan hulle die mense sommer net laat loop. Die prokureur moet ook aangekla word vir ontvangs van gesteelde eiendom.

Swanna ·

Eish, my tjom. Waar is dit lekker? Hier gaan dit lekker in die nuwe Suid Afrika!!!!!!!!!!

V ·

Dit is hoe dit werk lyk dit my met meeste mans wat so vermis raak hul word seker aangeval en n dwelm ingegee dat hul nie weet waar hul is nie en word oorsee gestuur vir n sekere bedrag om dwelms te verkoop of versprei.Dis hoe maklik dit deesdae is.Dis hoekom mans deesdae net verdwyn hul word vasgevang in n dwelmbaas se hande.Wat word van die land!As dit nie moorde is nie,is dit dwelmsmouse wat jou bedwelm en ontvoer.Hoop hul kry die man veilig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.