Vermiste man se motor in plantasie gevind

Lees ook:
Vermiste man lewend op berg gevind

Chris James.

Chris James.

Die polisie in Mpumalanga het ʼn soektog van stapel gestuur in die plantasies naby die bekende Bridal Veil-waterval by Sabie nadat ʼn vermiste man van Witbank se verlate voertuig daar gevind is.

Chris James (27) se motor is Donderdag met behulp van ʼn opsporingstelsel in die plantasie opgespoor. James het op 1 Desember vermis geraak. Hy woon by sy suster, Sylvia, Witbank.

James is die oggend om 07:00 vir die laaste keer gesien toe hy werk toe sou ry. Hy het egter nooit by die werk opgedaag nie, en het ook nie die aand teruggekeer huis toe nie.

Sylvia het hom as vermis aangemeld by die polisie. Daar is sedertdien vasgestel dat hy die dag wat hy vermis geraak het, geld uit sy bankrekening ontrek het. Die polisie het hul soektog na die Laeveld uitgebrei aangesien hulle vermoed het dat James ʼn vriendin in Nelspruit wou besoek. Die vermoede bestaan ook dat James ontvoer is.

Volgens Sylvia is haar broer se motor, ʼn wit Chevrolet Spark, op ʼn grondpaadjie in ʼn dig bebosde gebied van die plantasie aangetref waar voertuie nie verder kan ry nie. Daar was egter geen teken van James self nie.

“Die polisie het laat weet dat hulle vandag na hom in die bergagtige plantasie gaan soek met die hulp van hul honde-eenheid,” het Sylvia gesê. “Die gebied is egter baie groot en ons wil soekgeselskappe reël om die polisie by te staan. Hoe meer mense na hom soek, hoe vinniger sal ons hom kan kry.”

Sylvia het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om haar by 072 373 7559 te skakel as hulle by die soekgeselskap wil aansluit, of as hulle haar broer dalk gesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.