Carsten Jocksch (56), die man wat al twee weke lank vermis word, se motor is Dinsdagmiddag gevind.
Die polisie van Gqeberha het vroeër die gemeenskap se hulp gevra om Jocksch, wat op ʼn kleinhoewe in Theescombe woon, op te spoor.
Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is Jocksch se grys Mercedes-Benz Sprinter in die Baviaanksloof-omgewing gevind.
“Speurders van die Kabega Park-polisie was besig met hul soektog in die gebied toe inwoners hulle in kennis gestel het van die voertuig wat die laaste twee weke verlate staan.
“Jocksch is deur sommige inwoners gesien, maar hy het nie self kontak met iemand gemaak nie. Lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid het die gebied begin fynkam, maar weens die bergagtige terrein is die soektog tot Woensdag afgelas.”
Jocksch het sy huis in Kragga Kamma-weg op 2 Februarie omstreeks 05:00 verlaat en ʼn vriend in kennis gestel dat in die berge by Groendal gaan fietsry.
Sy foon is sedertdien af en hy het sy gelisensieerde 9 mm-Glock-pistool by hom.
Volgens Naidu is daar navraag gedoen waarna dit bevestig is dat Jocksch nooit geregistreer het om by Groendal te stap of fiets te ry nie.
Enigiemand met inligting oor Jocksch se verdwyning word versoek om ao. Bertus Blom te bel by 082 442 1017 of 041 397 6801 of Stop Misdaad by 08600 10111.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Ek hoop hy word gou gevind..
Dit gaan goeie kundige speurwerk verg om te bepaal wat gebeur het.
Ek dink hy het ander planne gehad, want hoekom vir sy vriende sê hy gaan op ‘n sekere plek stap, dan word sy voertuig op ‘n totaal ander plek gekry? Maak nie sin nie!