Vermiste man veilig gevind

Jaco Drinkwater is veilig gevind. (Foto: Verskaf)

Jaco Drinkwater (46), die man wat sedert Sondagmiddag deur sy familie en werkgewer gesoek word, is veilig gevind.

Maroela Media het berig dat Drinkwater van Malmesbury in die Wes-Kaap na Schweizer-Reneke in Noordwes vir sake gereis het. Hy is ’n werktuigkundige by Northmec (Case), ’n landbou-onderneming, se tak in Malmesbury en sou met oeste in Schweizer-Reneke gaan help het.

Sy familie kon teen Dinsdagmiddag nie veel inligting bekend maak nie, maar het kortliks aan Maroela Media gesê dat Drinkwater sonder ’n sein gestrand geraak het nadat hy “verdwaal” het.

“Hy ken nie daai wêreld nie en het ’n verkeerde afrit anderkant Springbok in die Noord-Kaap gevat.

“Dis ’n lang storie en ons probeer tans nog almal tot bedaring kom,” sê ’n verligte Lydia Drinkwater, sy ma.

Sy werkgewer, André Niewoudt, het bygevoeg dat Drinkwater se voertuig boonop sonder brandstof gaan staan het en dat hy tot ’n berg uitgeklim het om ’n sein te probeer kry.

“Met sy laaste probeerslag kon hy met ons kontak maak.”

Niewoudt het vroeër aan Maroela Media vertel dat Drinkwater 06:00 Sondag uit Malmesbury vertrek het, maar nooit sy bestemming bereik het nie. Nóg Niewoudt nóg Drinkwater se familie kon hom in die hande kry en boonop het die opsporingsapparaat in sy voertuig die sein verloor.

Drinkwater sou deur Vryburg ry om sy kinders, wat op dié dorp woon, vir ’n vinnige kuier by die plaaslike Spur-restaurant te kry, maar het ook dié afspraak misgeloop.

Hy is Dinsdagoggend amptelik as vermis aangemeld.

In ’n Facebook-inskrywing Dinsdagmiddag het sy ma aangedui dat Drinkwater se kollegas op pad is om hom te gaan haal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Louisepretorius ·

Ek is so bly vir sy Familie. Ons is vriende .dit kon so anders gewees het

Rian ·

Volgens vorige berig het hy veilig daar aangekom, en toe verdwyn? Dit maak nie sin nie, of die berig was foutief.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.