Vermiste meisie 28 uur in motorwrak vasgekeer

Selanna Giselle Biggs (Foto: Instagram)

’n Jong vrou (19) van Mbombela in Mpumalanga is Sondag lewend in die wrak van haar motor op die Kaapschehooppad aangetref nadat sy langer as ’n dag vantevore as vermis aangemeld is.

Selanna Giselle Biggs was sowat 28 uur lank, deurnag, in die wrak van haar Suzuki S-Presso onder in ’n plantasie langs die pad vasgekeer voordat die soekgeselskap haar eindelik opgespoor en te hulp gesnel het. Dié het sedert Saterdag onverpoos na haar gesoek.

Selanna het die motorongeluk oorleef hoewel sy haar femur sleg gebreek en ’n harde hou teen die kop weg het.

Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice het Maandagoggend aan Maroela Media gesê Selanna het Saterdagmiddag saam met haar ouers in Mbombela gaan uiteet. Haar ouers is daarna huis toe en Selanna het gaan lekkergoed koop voordat sy ook huis toe is. Sy het die lekkergoed by die huis afgegee en is kort daarna weer in haar motor daar weg.

Selanna se ouers het egter later bekommerd begin raak toe sy nie teruggekeer het nie en sy is as vermis aangemeld. ’n Soektog is van stapel gestuur, maar het Saterdagnag niks opgelewer nie. Teen Sondagoggend was daar steeds geen teken van Selanna nie en ’n groot soekgeselskap – bestaande uit verskeie sekerheidsmaatskappye en tussen 20 en 25 voertuie – is op die been gebring om die omgewing te fynkam.

’n Groot soektog is die naweek na Selanna Giselle Biggs van stapel gestuur. (Foto: Bossies Community Justice/Facebook)

Volgens Gryvenstein is daar gesê dat Selanna glo lief daarvoor is om na die dorpie Kaapschehoop te gaan. ’n Vliegtuig van die polisie en ’n private helikopter is later ingespan en daar is selfs vanuit die lug na haar in die omgewing gesoek. Daar was egter steeds geen teken van Selanna of haar motor nie.

Dit was eers toe ’n voetganger laatmiddag al die motors in die omgewing gewaar het dat hy een van die lede van die soekgeselskap voorgekeer en van ’n motorwrak in die plantasie langs die pad buite Kaapschehoop ingelig het.

“Hy [die voetganger] het seker die baie voertuie gesien en besef daar word na die motor gesoek,” sê Gryvenstein nou.

Selanna, wat aan ’n outo-immuunsiekte ly, is sowat 3 km buite Kaapschehoop vasgekeer in die wrak van haar motor aangetref. Die motor is ongeveer 100 m na onder teen die steil afgrond af in die plantasie aangetref. Sy was in dié stadium baie gedehidreer en “in en uit” wat haar bewussyn betref, sê Gryvenstein.

Sy is op die toneel gestabiliseer voordat sy met ’n lugambulans na ’n hospitaal in Mbombela gevlieg is. Dit gaan intussen beter met Selanna hoewel sy ’n operasie aan haar been sal moet ondergaan.

“Ek is ook ’n ouer en kan my nie indink waardeur haar ouers moes gaan nie. Ek wou nie rus totdat ons haar kry nie,” sê Gryvenstein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

SomeOne ·

sterkte selanna, gou gesond word, dankbaar vir voetganger se inligting

Alta Alleman ·

Bedank daai voetganger asb.
Sterkte Sellana, mag jy sommer gou weer op die been wees.

Misky ·

Dis wonderlike nuus en mens verwag al die ergste in vandag se tye met al die moord en dood tydings.

ES ·

Sjoe – ‘n storie wat darem, afgesien van haar beserings, nie tragies geiendig het nie!

Mariana ·

Mens kan net dankie sê dat sy oorleef het en nou aan die herstel is. Mens se kinders is kosbaar en om hulle te sien seerkry is hartseer. Voorspoed vir haar en haar familie.

Johann ·

Die verligting van die familie! Baie dankbaar sy’s veilig.

Mads ·

Prys die Here!!! Ek het ook vir haar veilige vind/tuiskoms gebid!! Ag ek is SO BLY, my trane loop sommer.
Sterkte meisiekind!! Jy gaan nog getuig van God se genade en beskerming! Ek sê saam haar ouers ń dankgebed!
Só lekker om ń storie met ń gelukkige einde te lees!!!

Chantel ·

Dankbaar sy is gevind. Sterkte met die herstelpad
(Ek het Zenly op my kinders se fone en selfs op my en my man’sin gelaai. Dit help ons almal. ) Juis vir die rede dat daar deesdae soveel mense vermis raak.

Wielspore ·

Ons is dankbaar dat die soektog op sukses uitgeloop en elke persoon of instansie wat daaraan deelgeneem het verdien lof vir hulle werk. Die Kaapsehoop pad tussen Nelspruit en Ngodwana is bekend vir sy ongelukke agv skerp draaie en wilde diere wat op die pad voorkom.

Regverdigheid ·

Bly jys veilig gou gesond word. Bedank die voetganger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.