Vermiste meisie dalk by familie

Argieffoto

Argieffoto

Gerugte wat die rondte doen dat Klara (9) opgespoor is nadat sy glo Vrydag tydens ʼn sportdag by haar laerskool in Klerksdorp ontvoer is, is ongegrond.

“Sy word steeds gesoek en die polisie het hul soektog na haar drasties verskerp,” het Michelle Peach, ʼn senior maatskaplike werker van die SAVF Rethabile-kinder-en-jeugsorgsentrum, Donderdag aan Maroela Media gesê.

“Ons het goeie rede om te glo sy is by familie. Sekere familielede mag egter nie in kontak met haar wees nie. Die polisie is besig om alle leidrade op te volg. Ons het egter nog alle moontlike hulp van die publiek nodig om die polisie in hul ondersoek by te staan. Ons is bekommerd oor haar en moet haar gou en veilig opspoor.”

Maroela Media het gister berig Klara is Vrydag deur ʼn man by Laerskool Unie, waar sy skoolgegaan het, opgelaai. Sy ken glo die man. Sy het sportdrag van die skool aangehad toe sy die laaste keer gesien is. Klara het donkerbruin hare, donkergroen oë, weeg 28 kg en is 1,4 m lank.

Klara is verlede jaar deur die kinderhof in die SAVF se sorg geplaas hangende die uitkoms van ʼn finale aanbeveling van dié hof.

Die SAVF het die saak by die polisie aanhangig gemaak nadat dit aan die lig gekom het dat sy moontlik ontvoer is. Hoewel inligting oor kinders in sulke gevalle in terme van die Kinderwet nie in die media bekendgemaak mag word nie, het die SAVF ʼn hofbevel by die kinderhof bekom om inligting oor haar te versprei in ʼn poging om haar so gou as moontlik op te spoor.

Peach het gesê sy is vermoedelik in die Coligny-, Christiana-, Klerksdorp- of Hartbeesfontein-omgewing.

Mense wat weet waar Klara is of wat haar sien, word versoek om ao. Disipi van die Klerksdorp-polisie se gesins-en-kindereenheid te bel by 018 464 5385 of 082 568 6909 of die Pink Ladies by 072 214 7439.

  • Aangesien die meisie gevind is, verwyder Maroela Media haar foto en gebruik ʼn skuilnaam om haar identiteit te beskerm in terme van die Kinderwet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DPJ ·

Hoe jammer dat die kind in die middel van ‘n drama moet staan.

m ·

Ai tog die arme kind. Moet sy nou in die middle wees van familie dramas. Sy is nou juis uit die sorg van haar ouers gehaal en wie weet nou in watter omstandighede sy nou moet wees.

Gesiggie ·

Familie of nie…. as hul n gevaar inhou vir Samantha… is dit van uiters belang dat sy gou opgespoor moet word”’ Wie ook al Samantha opgelaai het daai dag… ASB”’ sorg dat sy veilig terug besorg word…. moet nie die reg in jul eie hande probeer neem… dit gaan net vir jul nog meer moeilikheid veroorsaak. Samantha… Ek bid dat jy geen leed aangedoen sal word… en veilig terug sal keer na jou tuiste waar jy hoort.

Johan 2 ·

Dit is baie tragies. Ek wonder net soms wie bepaal en hoe akkuraat dat die arme ouers skadelik is. Nou is hul moontlik nog in die moeilikheid omdat hul hul eie kind wil grootmaak ook. Dis v my moeilik om dit in te dink. Jammer vir ALMAL betrokke.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.