Die liggaam van ʼn 16-jarige meisie van Phalaborwa in Limpopo, wat sedert Saterdag vermis was, is Dinsdag in ʼn spruit buite die dorp gevind.
Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê die meisie, Karen Manyama, het Saterdagoggend haar huis in Alwynstraat verlaat om vriende by ʼn plaaslike restaurant te ontmoet. Sy het nooit teruggekeer huis toe nie.
Sy is as vermis aangemeld en ʼn soektog is van stapel gestuur.
“ʼn Verbyganger het Dinsdag die polisie ontbied nadat hy ʼn liggaam tussen riete in ʼn spruit buite die dorp opgemerk het,” het Otto gesê. “Die liggaam was gedeeltelik in plastiek toegedraai.”
Die liggaam is as Karen s’n uitgeken. Die oorsaak van haar dood is onbekend en sal deur ʼn nadoodse ondersoek bepaal word.
Die polisie ondersoek ʼn saak van moord. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Kom ek gee julle ‘n brief dat daar ook ‘n saak sal wees van moontlike verkragting want dit is hoe die wonderlike demokrasie werk in hierdie land van oënskynlik GEEN vroueregte.
Baie hartseer. My oudste dogter amper 17. Geen mens kan daardie seer verstaan as jy dit nie self ervaar nie..
Baie hartseer dat die joernalis nie die jong meisie se naam reg het nie. Dis nie dieselfde naam as in ander berigte nie.
Baie hartseer wat gebeur het. My hart gaan uit na haar familie.
Die kind is baie bekend aan my, pragtige dogter met n sonnige geaardheid, sukkel nog om haar dood te verwerk, om iemand so na aan mens af te staan aan die dood is erg, mens wens dit geen ouer toe nie. Geen ouer is ooit voorberei om hul eie kinders te begrawe nie, hoop die een wat dit gedoen het word vinnig vasgetrek. RIV Khutso
Die skuldige sal seker eers in 2020 gevonnis word indien hy ooit gearresteer sal word.