Vermiste Mooinooi-vroue: Familie bly hoop

Joey van Niekerk en Anisha van Niekerk. Foto: Via Facebook

Alhoewel drie mense Vrydag op ʼn aanklag van moord in die hof verskyn het in verband met die verdwyning van twee jong vroue van Mooinooi onder weg na ʼn roudiens in Pretoria, duur die soektog na hulle voort.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie in Noordwes, het Maandag aan Maroela Media gesê die soektog na Joey (32) en Anisha van Niekerk (30) duur onverpoosd voor. “Ons het hul voertuig oor die naweek met behulp van die gemeenskap opgespoor nadat daar wyd oor hul verdwyning berig is,” het hy gesê.

Hul uitgebrande Nissan X-trail-sportnutsvoertuig is Saterdagoggend in die Magaliesburg-omgewing gevind. Daar was egter geen tekens van die vroue nie.

Maroela Media het vroeër berig Joey en Anisha is verlede Sondag omstreeks 07:30 vir die laaste keer in die Mooinooi-omgewing gesien waar hulle saam op ʼn kleinhoewe bly. Joey se pa is onlangs oorlede. Hulle was op pad na Pretoria om sy roudiens by te woon, maar het nooit Sondag hul eindbestemming bereik nie. Hulle het ook nie Dinsdag die roudiens bygewoon nie.

Drie mans is Donderdag in verband met hul verdwyning in hegtenis geneem. Talane het vroeër gesê persoonlike besittings, waaronder die vroue se bankkaarte, is in die verdagtes se besit gevind.

Aaron Sithole (23), Koos Strydom (53) en ‘n derde verdagte het Vrydag in die Brits-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, ontvoering, roof, die onwettige besit van ʼn vuurwapen en dwarsboming van die gereg. Die saak is tot 22 Desember uitgestel en die verdagtes bly in aanhouding tot dan.

Talane het beklemtoon alhoewel die verdagtes van moord in verband met dié voorval aangekla word, is die vroue se liggame nog nie opgespoor nie en duur die soektog na hulle dus voort.

Wynand van Niekerk (34), Anisha se broer, het Maandag aan Maroela Media gesê die verdagtes is nie aan hulle bekend nie en die familie klou vas aan elke greintjie hoop te midde van die spanning, onsekerheid en hartseer.

“Baie dankie aan elke liewe persoon se liefde, gebede, bystand en ondersteuning gedurende die afgelope week. Die verdwyning van Anisha en Joey, en veral die saak daar rondom, is vir elkeen van ons ʼn groot skok. Ons ervaar maar baie wisselende emosies rondom hul verdwyning,” het hy gesê.

Hy het gesê sommige mediahuise sinspeel daarop dat Anisha en Joey reeds dood is. “Alhoewel daar sekere waarhede rondom die artikels is, soos die aanklagte van moord, is daar nog geen liggame gevind om dit te bevestig nie.”

Van Niekerk is vol lof vir die polisie met hul hantering van die saak tot dusver.

“Die polisie werk tans 24 uur ʼn dag aan die saak. Daar is ook ander organisasies wat help om die proses deeglik en glad te laat verloop. Ons maak tans gebruik van alle moontlike hulpbronne. Aan elkeen van hierdie persone sê ons ook dankie.”

Hy het gesê die familie besef daar lê vir hulle ʼn baie uitdagende tyd voor. “Daar is nog baie onbeantwoorde vrae maar ons glo dat daar tog elemente van hoop in die saak lê. Ons versoek dat elkeen van julle sal bly bid en ondersteun. Ons waardeer elke boodskap en gebed. Bid saam met ons vir krag, helderheid en uiteindelike klarigheid oor die saak.”

Van Niekerk het ʼn beroep op die publiek gedoen om aan te hou om pamflette en berigte met inligting oor die vroue op sosiale media te bly deel. “Ons koester nie onrealistiese verwagtings nie en ons is ook nie naïef nie. Ons glo eenvoudig net op die oomblik dat God by magte is om dinge te doen wat vir ons onmoontlik is. Daar het alreeds ʼn klomp wonderwerke in die afgelope week gebeur.”

Enigiemand met meer inligting oor die twee vroue se verdwyning word versoek om ao. Christiaan Robinson by 082 643 6137 of 014 574 5000 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ella ·

Wat se die wat reeds in aanhouding is? Hierdie storie klink nie reg nie. Sterkte aan die familie.

Belinda ·

kry n siener om hulle op te spoor. Daar was n moord in Welkom van n jong man wat by Welkom begrafplaas vermoor is & daar begrawe is. Die siener het die area reg voorspel & speurders het sy lyk by Welkom begrafplaas gevind. So tragiese verhaal wat Welkom geruk het destyds.

Ockert ·

As ‘n siener werk hoekom dan nie vermiste vliegtuig opgespoor nie en nog nooit gehoor van siener wen lotto nie.

Denise ·

Dit sal net met genade van bo wees as die twee pragtige vrouens lewendig gevind word ek is baie hartseer kan n mens nie eens ry na n begrafnis nie twee onskuldige mense ai waar gan dit eindig ??????

Lientjie ·

Die 3 verdagtes verskyn vir moord in die hof, maar die 2 dames is nog nie eers opgespoor , dood of lewend nie!

Katryn ·

As die tweetjies kon! Sou hulle laatweet het waar hulle is en met wie.

Ekke ·

Het die 3 nou vergeet wat hul met die 2 vroue gemaak het??? Laai hul in die motor en hul moet net gaan wys waar is die vroue????

Lena ·

Ek verstaan ook nie hoe verdagtes van moord aangekla kan word as daar nie betroubare bewyse bestaan dat die slagoffers nie meer lewe nie. Wat van die moontlikheid van mensehandel (human traficking)? Sterkte aan al die familie.

foxi ·

Ek glo nie dat mense einlik beweer dat hulle reeds dood is nie, maar wat daar gesê word is dat dit nie goed lyk nie. Nou as hulle die verdagtes gevang het, WAAROM kan hulle nie die vroue opspoor nie! Waar het die verdagtes dan die vroue se bank kaarte ensv gekry. Wat sit nou agter die storie, dit maak net nie sin nie……..

Beatrix ·

Hierdie Familie gaan deur hel… kan net dink wat als deur hul brein moet gaan…. vat daai 3 verdagtes en maak hul praat? hoekom nou wag todat iemand iets kan doen of uitvind, hul is verantwoordlik…. daar is 2 meisies se lewe op die spel”’ en die verdagtes is al wat weet wat en waar…. Ek is seker die polisie kan n plan maak om hul te dwing om te praat…. Sodat die familie van Joey en Anisha vrede kan vind… Ek Bid en Hoop vir hul veiligheid… en dat niks ergs gebeur het. Hoop om gou goeie nuus te ontvang… Sterkte aan elkeen wat deel is van hul lewe…

Peet J ·

Aldrie het natuurlik ooreengekom om nie te praat nie . Hulle moet net in afsonderlike selle geplaas word en ek is oortuig een van hulle sal praat.

Anrie Pienaar ·

Ek wil net weet of die vermiste persone se fotos ook by grensposte versprei word want die handel in mense is ongelooflik hoog vanaf SA na Mosambiek by die Lebombo grens. Dit is veral handel in Organe. Die Hawks is nou met ‘n ondersoek besig in Marloth Park.

FM ·

Daar is mos maniere om die verdagtes te laat praat. Hou hulle net apart van mekaar en gesel hulle so bietjie. Een sal begin praat.

Bouthang ·

Nie so maklik soos dit nie, die verskyning is vir my te vroeg gedoen ook, op die oomblik is daar geen konkrete bewys dit was hulle nie, en sal nie sit vir moord nie, nog minder sonder liggame. Die is als vir my te gejaagd. Iets is nie vir my reg nie, iets maak nie sin nie, hoekom so vinnig sonder bewyse (ja die hul kaarte ens) maar dit plaas hul glad nie by n moord nie, net diefstal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.