Vermiste Muizenberg-vrou opgespoor

Angelique Ripepi is Woensdagaand opgespoor. Foto: Facebook

Die vrou van Muizenberg in die Kaap wat sedert Saterdag vermis was, is ongedeerd gevind.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê Angelique Ripepi (25) is Woensdag omstreeks 18:00 gevind en met haar familie herenig. “Die polisie ondersoek die omstandighede waaronder sy vermis geraak het,” het hy by navraag aan Maroela Media gesê.

Dessie Rechner, Pink Ladies se bedryfshoof, sê twee vroue het Ripepi by ’n bushalte in die suidelike voorstede gewaar en herken danksy biljette van dié organisasie wat vermiste persone probeer opspoor. Die vroue het die polisie ontbied, wat haar toe kom haal het. Sy is hospitaal toe gebring, waar sy ondersoek is.

Rechner bedank almal wat inligting oor Ripepi gedeel en so gehelp het dat sy veilig tuis kon kom. Sy sê die familie vra mense moet hulle tyd en ruimte gun om van die spanning van die laaste paar dae te herstel. “Daar is in dié stadium geen verdere inligting nie,” sê Rechner.

Angelique se stiefpa, Anthony Matthee, se selfoon was Donderdagoggend afgeskakel.

Hy het vroeër vertel Ripepi het ʼn vriend gevra om haar Saterdagoggend vroeg by die Table View Mall vir ʼn werkonderhoud af te laai. Hulle is omstreeks 07:30 by haar woonplek in die Suid-Skiereiland weg.

Beeldmateriaal van veiligheidskameras het gewys hoe die vriend, saam met wie sy grootgeword het, haar oplaai. Maar Matthee het gesê die polisie kon nie sy motor sien op enige beeldmateriaal van die sowat 35 km lange roete wat die vriend gesê het hulle Table View toe gevolg het nie.

Die vriend het Woensdagoggend ʼn verklaring by die polisie afgelê. “Hy is nog nie ʼn verdagte nie, maar die polisie wil hom weer ondervra [nadat hulle die beeldmateriaal bestudeer het],” het Matthee gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

fish ·

bai ebly sy is geving maar so snaaks wanneer sy gevind is dan is dit ‘n staats-geheim en mens hoor niks verder nie. Mens weet nie of sussie seer gemaak was of op drugs en bietjie ‘n roadtrip gegaan het nie en los die leesers oor aan hulle verbeelding. Hoop sy is ongedeurd.

koos ·

Ek stem saam fish. As mense gesoek word is die media hulle (die familie) se grootste vriend. Mense is van nature geneig om met sulke stories betrokke te voel. Dan word die vermiste gevind en dan word die media en die publik as “vyand” beskou.
Gee net ‘n kort persverklaring met wat gebeur het. Nie alle details hoef gegee te word nie. Was die vriend betrokke ens.

Santjie ·

Dit maak my ook vies! Almal se hulp is goed genoeg wanneer benodig, maar sodra die persoon opgespoor is, dan word inligting weerhou…. nee man…

Johanna ·

Dis nie nodig om te weet wat die omstandighede is nie. dit word mos ondersoek. die hoofsaak is dat sy lewend gevind is en met haar familie herenig is. Dankie Hemelse Vader.

Santie ·

Ek is n trotse maroela media leser. Ek is baie bly dat sy veilig is. Maar daar is dinge wat ek nie kan verstaan nie. As iets gebeur met iemand dan word dit wyd versprei dat die publiek moet help. As hulle veilig gevind word dan moet hulle privaatheid gerespekteur word of tyd en ruimte gegun word. Die publiek help so hard saam soek maar dan klink dit vir my die publiek word dan uitgeskyf as persoon (e) gevind word . Miskien kan iemand my reghelp op n mooi manier asb.

Hennie ·

Santie dit is nou maar so die publiek word by alle ondersoeke betrek maar wanneer dit opgelos word agv die publiek sal jy tot in alle ewigheid nie n woord daarvan hoor nie so berus jou by die feit dat dit so is en so sal bly die Engelse het n goeie gesegde ” it is a society with secrets in this secrecy society”. Hoop jy verstaan dit nou beter.

Wonder ·

Mens hoor altyd van mense wat “weg” is maar hoor nooit weer die rede en omstandighede nie, jaag almal op hol en dan eindig al die berigte stomp familie soek ruimte om als te verwerk….en dan na n ruk geen terug voer berig nie……

Paul ·

Is julle trots op jul onregverdige sensuur. Ek stem saam met regter Zondo, media wil deesdae ook regter speel

Lena ·

Bly sy is gevind. Miskien moet mense net ophou om so nuuskurig te wees!!!

Santjie ·

Lena, ek laat my nie vertel jy is nie nuuskierig nie? Wed jou jy sal die eerste een wees wat sou lees sou daar meer inligting wees. Jy mag maar nuuskierig wees. Dis menslik en nog meer deel van vrou wees! :)

Nettie ·

@Lena, dit was twee vroue se “nuuskierigheid” wat die dame help opspoor het. As die twee dames nie soo “nuuskierig” was om The Pink Ladies se vermiste-persoon-biljette te lees nie, sou hulle nie die dame kon identifiseer en hulp ontbied het nie. En ek dink dit ís onregverdig om die publiek om hulp te vra, maar as ‘n vermiste persoon opgespoor word, dan te sê “die familie vra hul privaatheid” en dan blaps! stil te bly verder. As die publiek se hulp goed genoeg was om te vra toe die persoon verdwyn het, verdien die publiek darem ook ‘n bietjie terugvoer nadat die persoon gevind is, nie waar nie?

Santjie ·

Lena, ek laat my nie vertel jy is nie nuuskierig nie? Wed jou jy sal die eerste een wees wat sou lees sou daar meer inligting wees. Jy mag maar nuuskierig wees. Dis menslik en nog meer deel van vrou wees! :)

Onnie ·

Kan mense wt wil wegloop asb nt hul familie en vriende in kennis stel – per brief, Epos of whtsap. Dan hoef di polisie en publiek ni elke keer op hol te gaan en hulpbronne te mors ni. Dis n volwassene se reg om te verdwyn en ni gevind wil word ni.

zelda ·

As dit jou dogter/kind was sou jy die wasgoed hier op MM wou was?

bitter bly sy is veilig en gevind, dit gaan ‘n lang herstelpad wees,
hoop jy’t ‘n les geleer jufie!

miskien as ons ander mense meer spasie gee en ons minder besig hou
met ANDER mense se twak sal dit beter met almal gaan.
as jy naby familie was sou jy geweet het wat het gebeur, maar jy is nie
laat jou neus asb uit ander se besigheid!

Bossie ·

Ag nee, dis onnodig bitsig. Almal vra vir hulp as iemand weg is, en dan geen terugvoer nie. Natuurlik wil mense weet wat gebeur het.

Se net... ·

Hellooo daar is gevra ek moet my neus in hulle besigheid steek deur te vra om te kyk waar sy is

christa ·

hoop dat sy nie ongestraf sal bly as dit sommer net weglopery was nie.

LD ·

Ek sal sê, vertel die publiek presies wat gebeur het, juis sodat die jong klomp kan besef wat daar buite aangaan! As sy wou weg loop is dit ñ heel ander storie maar as daar iets anders gebeur het moet die jeug kan sien wat kan gebeur! As sy nie van als kan onthou nie beteken dit sy wat dalk bedwelm ens en moet die jong klomp hoor hoe gevaarlik dit is om sommer mense te vertrou al het jy saam daardie persoon groot geword sê dit nog nie jy kan hom of haar vertrou nie! Ons wil nie weet of sy verkrag is of nie net dat, is sy ontvoer en was sy bewus van wat om haar aangaan of waar het hulle haar aangehou sodat mens met n volgende soort gelyke saak daar kan gaan kyk of jong mense daai area dalk vermy…. Sjoe soveel voordele kan uit die storie kom as die publiek gewaarsku kan word oor hoe en waar en wat als!!!

GM ·

Ja nè, sosiale media is ‘n euwel vir almal wat wil wegloop (en ek maak maar my eie afleidings hier).

En ja, natuurlik is almal nuuskierig om te weet wat gebeur het, maar dit het absoluut niks met enige van ons te doen nie. Ek kan nie sien hoekom almal altyd agterna ‘n ‘tantrum’ wil gooi omdat die familie nie al die besonderhede wil deel nie. Dit was jou keuse of jy die ‘posts’ op FB deel of nie – niemand het julle gedwing nie. Wees eerder dankbaar sy lewe nog.

Eddy ·

Ek het al sommige kere gesien n persoon was as vermis aangemeld dan soek almal hul disnis,maar tussentyd het die vermiste persoon heeltyd op n uitstappie met verkeerde elemente of weggehardloop van die huis. Daarna will die familie die skandaal uit die openbaar weg hou

JSO ·

Dis hoekom ek g’n niks “missing” posters share nie. Laat mamma en pappa maar self loop soek na ‘n stout kind. Of vroutjie na haar rondloper man op sy wegbreek nawekie. Tsk.

Jaco ·

So omdat die mense help gesoek het (sou julle nie ook om hulp vra nie) nou is dit reg en word verwag dat hulle vuil wasgoed in die openbaar vertoon word.
Almal in die wêreld het hulle eie “dirty little secrets” wat hulle eerder nie wil deel met die wêreld nie.
As dag sal moet kom dat die nosey Nellie’s hulp nodig het van enige aard, sal hulle moet gereed wees om hulle eie storie te vertel. Nie so nie?

Kediksie ·

In my dae toe ek joernalistiek studeer het, was die 5 W’s in ons ingedril.
Wie, Wat, Waar, Wanneer, Waarom. In baie van die media se artikels word sleg n paar W’s beantwoord. Die Waar en Waarom is nie beantwoord nie. Ek kan dus verstaan dat mense vies raak, omdat hulle nie al die inligting kry nie. Die 5 W’s is nie om nuuskierige mense tevrede te stel nie. Dit is inligting waaruit die publiek kan leer.

LD ·

@Kediksie. Presies wat ek ook sê! Ons wil nie weet of sy verkrag is ens nie, net die feite wat iemand anders se lewe dalk kan red of verhoed dat so iets met iemand gebeur! Paraatheid!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.