Vermiste mynwerker dood gevind

Sibanye-Stillwater se Kloof-myn aan die verre Wes-Rand. (Foto: Sibanye-Stillwater)

Die mynwerker wat vandeesweek in ’n mynskag aan die Wes-Rand vermis geraak het, se liggaam is gevind.

Twee mynreddingswerkers is ook Sondagaand in Sibanye-Stillwater se Kloof-myn dood toe hulle tydens ’n soektog na hom deur hitte oorval is.

Die mynwerker, wat as ʼn voorman geïdentifiseer is, het Sondag al vermis geraak.

Sy liggaam is Woensdag vroegaand na die oppervlak gebring.

Steve Scott, Solidariteit se verteenwoordiger vir mynwerkers by Sibanye, het vanoggend aan Maroela Media gesê die voorman se liggaam is in dieselfde gebied in die Kloof-mynskag gevind as waar die ander twee mynreddingswerkers dood is.

Leon Peacock, kaptein van die mynreddingspan, en George Kolbe, een van sy lede, is tydens die soektog na die voorman dood.

Maroela Media het vroeër berig die voorman, ʼn ambagsman en twee vakleerlinge het beplande roetineherstelwerk naby die skagstasie afgehandel, waarna die voorman nooit teruggekeer het nie.

“Die groep was op pad terug toe die voorman agterraak. Die ambagsman het ʼn halfuur vir hom gewag, maar hy het nooit teruggekeer nie. Die twee vakleerlinge het dadelik na hom begin soek, terwyl reddingspanne na die myn ontbied is,” het Scott vroeër gesê.

Die oorsaak van die voorman se dood kan nog nie in dié stadium bevestig word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

Baie sterkte vir daai families. Ek was 10jaar gelede in mynongeluk. Dit net gebed wat mens deur sulke tye dra

Skappie ·

Sterkte aan die gesinne en vriende van hierdie mans. Mag onse Liewe Heer hulle deur hierdie moeilike tyd dra.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.