Vermiste ouma (71) gevind

Denise Bartlett (Foto: Facebook)

Denise Bartlett, die 71-jarige ouma van Sterkstroom in die Oos-Kaap wat Dinsdagaand ná ʼn huisroof deur ʼn groep verdagtes ontvoer is, is gevind.

Kapt. Namhla Mdleleni, woordvoerder van die polisie, het gesê Bartlett is Vrydag lewend in Sterkstroom gevind. Sy het ook bevestig dat twee verdagtes in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Sy kon egter nie bevestig of Bartlett enige beserings opgedoen het nie.

Mdleleni wou geen verdere besonderhede bekend maak nie. Maroela Media het Bartlett se dogter, Lindy Bartlett, Vrydag genader om kommentaar. Sy het gesê sy kan nie nou praat nie en toe die foon neergesit. Jayme Haggard, ʼn familielid, het bevestig Bartlett is gevind. Haggard het gesê die familie kan nie in dié stadium meer inligting oor die saak bekend maak nie.

Lindy het Woensdag aan Maroela Media vertel dat Denise saam met ʼn kleindogter en dié se vriendin tuis was toe die verdagtes toegeslaan het. “My ma [Denise], my dogter en haar vriendin was vir ongeveer 20 minute tuis toe hulle ʼn man onder die tafel opgemerk het. Toe die man sien dat hulle hom gewaar, het hy onder die tafel uitgespring en hulle met ʼn wapen aangehou,” sê sy.

Lindy sê sy en een van haar ander dogters het later die aand by haar ma se huis aangekom en is deur nog ʼn gewapende man oorval. Volgens haar het die man haar en haar dogter met ʼn wapen tot in die badkamer gedwing.

“Die man het ons eers gevra vir ons selfone. Ek het my selfoon op die vloer gegooi, maar gesê my dogter het nie ʼn selfoon nie. Hulle het ons daarna in die badkamer ingeboender en die deur agter ons gesluit. My dogter het haar selfoon uitgehaal en ons het die polisie gebel, maar hulle kon ons nie aan die ander kant van die verbinding hoor nie. Ons het toe my derde dogter en haar vriendin gebel wat die polisie in die hande kon kry om na die toneel te kom.”

Volgens haar kon sy en haar dogter later uit die badkamer ontsnap en was net betyds om te sien hoe die verdagtes met Denise in haar motor wegjaag. Lindy sê haar ma is in die kattebak van die motor ingeboender.

“Ons kon net sien hoe hulle wegjaag, waarna die polisie later opgedaag het. Hulle was nie betyds nie, maar kon ons verklarings afneem en het dadelik die inligting begin opvolg.”

Die polisie het Denise se motor, ʼn lemmetjiegroen Chevrolet Spark, kort ná die voorval in Queenstown opgespoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lize ·

Vreemde verhaal. Verstop in die kattebak van ‘n Chevy Spark?

Thali ·

Wat is so vreemd aan die storie? Dis uiters hartseer dat ñ ou mens (of enige iemand) deur sulke trauma moet gaan. Dan kan ook seker nie meer lees nie, want nêrens lees ek iets van verstop nie.

Susan ·

Blykbaar is die Tannie deur n kleurling gewese lid van SAPS, n swart man wat 3 maand gelede uit tronk gekom het, en blanke man aangehou en glad nie beseer. Hulle sou n losprys eis, maar het nooit so ver gekom. SAPS soek na nog n persoon, dit is wat in QTWN die ronde doen. Wat ookal, dank God sy lewe!!!

oni ·

Regtig waar Lize, die vingerfoutjie is nie so issue nie. Die terugvoering is baie meer werd.
Hou vir n slag net op om met n vergrootglas rond te loop.

Cherokee ·

Maroela het Lindy Bartlett genader om kommentaar en sy het gesê sy kan nie nou praat nie en toe die foon neergesit? Maroela, julle maak seker ‘n fout. Sy het seker op ‘n ordentlike manier verduidelik dat sy nie toe kommentaar kon lewer nie en totsiens gesê voor sy die foon neergesit het. Ek meen, die vroumense in ons land het mos maniere, so miskien spreek julle julself net verkeerd uit soos ek ook dikwels doen en my hard verwerkte kommentaar beland waar Lindy Bartlett se telefoon beland het.

SNEL ·

Sien, God verhoor vandag nog gebede, so baie van ons het gebid dat sy veilig moet wees. Prys die Heer sy is. Hoe het Sadrag, Mesag en Abiednego gesê; of my God my red uit die vuuroond uit of nie, voor ander gode sal ek nie buig nie. God het altyd die laaste sê. Dankie Heer dat die Tannie se lewe gespaar is vir haar familie en vriende.

PJC ·

Goeie nuus dat hierdie ouma lewend gevind is. Gewoonlik word alle moontlike getuienes mos om die lewe gebring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.