Vermiste peuter ná drie dae gevind

Die kind is Woensdag na ‘n hospitaal geneem. (Foto: Verskaf)

’n Tweejarige dogtertjie is Woensdag gevind nadat sy drie dae gelede vermis geraak het.

Paul Herbst, woordvoerder van IPSS Medical Rescue, sê dié nooddiens is Dinsdagaand saam met die polisie se honde-eenheid na Sundumbili in KwaZulu-Natal ontbied om te help soek na ’n vermiste kind.

Paramedici en polisiebeamptes het ure lank tevergeefs na die nedersetting gesoek. Hulle moes eindelik halt roep nadat hulle nie die nedersetting kon opspoor óf met diegene wat hulle ontbied het, kon kontak maak nie.

Gemeenskapslede kon eindelik die vermiste kind opspoor. (Foto: Verskaf)

Die nooddiens is egter vanoggend wéér ontbied en kon eindelik die nedersetting opspoor. Paramedici is egter met hul aankoms ingelig dat gemeenskapslede intussen die kind opgespoor het.

Herbst sê die dogtertjie was gedehidreer en is op die toneel gestabiliseer voordat sy na ’n hospitaal geneem is.

Die omstandighede rakende die kind se verdwyning is nie in dié stadium bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.