Vermiste peuter opgespoor

Argieffoto.

ʼn Man is Woensdag in Heidelberg in die Wes-Kaap in hegtenis geneem nadat daar byna twee dae lank onverpoos na ʼn vermiste 16-maande oue peuter gesoek is.

Die kind is in die vroeë oggendure in die 30-jarige man se geselskap in Dollar Square gevind en sou later vanoggend vir mediese evaluering gestuur word. Die seuntjie het by sy tuiskoms ligte kneusplekke aan sy lyfie en voetjies gehad.

Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, sê die peuter se ma het Maandagoggend ʼn uitval met haar ekskêrel gehad waarna dié haar gedreig en met haar kind die bosse ingevlug het.

Die ma het die polisie ontbied en ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur. Die polisie se honde-eenheid, ʼn helikopter en private hommeltuie is onder meer die afgelope twee dae ingespan om na die kind te soek.

Die man is vanoggend omstreeks 02:00 in ʼn skuiling gevind waar hy met die peuter weggekruip het. Hy sal na verwagting Vrydag in die landdroshof in Heidelberg op aanklag van ontvoering verskyn.

Pojie sê die moontlikheid dat nog aanklagte aanhangig gemaak kan word, kan nie in dié stadium uitgesluit word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Noels244 ·

Ek dink ek moet eerder net ophou lees aan die nuus, my bloed kook al heeldag. Mense het mal geword en die kinders, oumense en diere trek aan die kortste end daarvan.

Marlene ·

Ek stem, geen goeie nuus nie, want waar sal dit tog vandaan kom!

JM ·

Besit geen selfbeheersing nie en dan moet die arme onskuldige peuter dit ontgeld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.