Vermiste polisieman, vriend se liggame gevind

Die toneel Sondag. Foto: SAPD

Die liggaam van ao. Arnesh “Jakes” Juggan, ʼn polisiebeampte van Dundee in KwaZulu-Natal, asook dié van sy vriend Ashok Rajoo (53) is gevind twee dae nadat die liggaam van Juggan se vrou, Molly, Sondag gevind is.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het die nuus aan Maroela Media bevestig.

Maroela Media het vroeër berig Juggan is op 23 Maart om 19:00 die laaste keer lewend gesien toe hy saam met sy vrou en ʼn vriend uit Peaceville weg is in ʼn gemerkte, amptelike polisievoertuig. ʼn Soektog is van stapel gestuur toe Juggan se seun owerhede in kennis gestel het dat sy ouers nie teruggekeer het huis toe nie.

ʼn Beampte verbonde aan die SAPD in Vryheid het Sondagoggend opgemerk dat die dak van ʼn wit Nissan Navara-polisievoertuig bokant die watervlak van die Sandrivier naby Dundee uitsteek. Die voertuig is ongeveer 100 m van die Landmansdrift-laagwaterbrug opgemerk.

ʼn Duikoperasie is in die vinnig vloeiende rivier gedoen en Molly se liggaam is in die voertuig gevind en uit die water gebring.

Die soektog na Juggan en Rajoo is voortgesit en hul liggame is Dinsdag langs die Sandrivier aangetref. “Juggan se liggaam is sowat 500 m van waar sy vrou se liggaam Sondag aangetref is gevind. Rajoo se liggaam is sowat 7 km verder aangetref,” het Zwane gesê.

Die polisie doen drie geregtelike doodsondersoeke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wonder ·

Nou het ek die bus gemis. Was sy vrou en vriend ook polisie lede gewees? Iets is nie so lekker hier nie.

Corrie ·

Nee hul was Ni maar hul Ni maar Om hulself te verdedig Ni laat hul in vrede rus Warrant Jul sal gemis word RIP

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.