Vermiste Polokwane-sakeman opgespoor

Roelof “Rassie” Harmse (Foto: Facebook)

Roelof “Rassie” Harmse (56), die sakeman van Polokwane in Limpopo wat op 9 Desember verdwyn het, is opgespoor.

Harmse se familie het vroeër vandeesweek ʼn pleidooi aan “enigiemand met meer inligting” gerig nadat hy nie teruggekeer het huis toe nie. Doreen Harmse, ʼn familielid, het vroeër aan Maroela Media gesê die hele familie is rasend van bekommernis omdat hulle geen idee gehad het waar hy hom bevind het nie.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het Woensdag aan Maroela Media bevestig Harmse is opgespoor. “Dit is nie in hierdie stadium duidelik waar hy gevind is nie, maar die polisie kan wel bevestig hy is tans in die hospitaal en ontvang mediese behandeling.” Ngoepe kon nie bevestig wat die aard van Harmse se mediese toestand is nie.

Volgens hom vermoed die polisie nie enige vuilspel nie. Hy het gesê hy beskou die polisie se vermistepersoon-saak as afgehandel en dat Harmse se gesin ʼn nuwe saak aanhangig moet maak indien hulle anders vermoed.

Ngoepe kon ook nie bevestig of die wit dubbelkajuitbakkie waarmee Harmse gery het, nou weer in die gesin se besit is nie. Harmse se familie was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nakkie ·

Ek stem saam met Ag Regtig. Hierdie afgelope naweek was iemand wat ek ken vir 12 ure lank vermis. Hy is ontvoer, oor die kop geslaan en afgelaai in ‘n veld. Die volgende oggend toe hy sy bewussyn herwin kon hy eers sy mense probeer in die hande kry, sans selfoon. Moenie so gou wees om te dink dis sommer ‘n slap riem nie. Hy is per slot van rekening nou in die hospitaal. En daar word nie gemeld hoekom nie.

Blom ·

Dankbaar hy is gevind en dat hy lewe.. Die res is maar baie vaag..?!?

Dafer ·

Ek weet nou regtig nie wat hier gebeur het nie, maar dit het kleintyd met my ook gebeur dat ma gedink het ek was ‘weg’, en toe sy my kry was ek ook amper ‘n hospitaal geval nadat sy my van blydskap oor ek nog lewe afgeransel het. Wie weet? Ek se maar net.

Anna ·

Liefde en sterkte vir jullle, hoop die nagmerrie is nou van die verlede

Sheena ·

Ek is baie bly hy is veilig. Ek voel egter dat die ubliek goed genoeg is om te help soek, berigte te share op sosiale media, whatsapps te versprei en saam te bid, maar dan is ons nie goed om in die verduideliking te deel nie. Ek weet die familie het privaatheid, maar hulle het verkies om daardie reg op te gee toe hulle dit op sosiale media versprei het. Mens wil ook maar die “loop” toemaak in jou eie gemoed. Groete en sterkte.

Sam ·

Ag toe nou.. Nuuskurige agies kry pyn op hul magies. Moenie so nuuskierig wees nie dis nie jou besigheid nie. En as jy ‘n probleem het met help soek, moenie soek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.