Vermiste Pta-leerling se erg geskende liggaam gevind

Argieffoto

Argieffoto

Die erg geskende liggaam van ʼn Pretoria-leerling wat Saterdag vermis geraak het, is Woensdag in ʼn veld noord van die stad opgespoor.

Sers. Kealeboga Molale, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die meisie van Ga-Rankuwa, Reneilwe Emma Seloadi (19), is Sondag as vermis aangemeld by ʼn plaaslike polisiestasie. Daar word vermoed dat sy Saterdag ontvoer is toe sy by haar ouma in Mothutlung, wes van Ga-Rankuwa, gaan kuier het.

“Die gemeenskap en polisie het sedertdien onverpoos na haar gesoek. Haar liggaam is Woensdagmiddag deur lede van die gemeenskap in ʼn afgeleë gebied in die veld in Mothutlung aangetref,” het Molale gesê.

Reneilwe Emma Seloadi (19). Foto: Facebook.

Reneilwe Emma Seloadi (19). Foto: Facebook.

Seloadi is kaal aangetref. Haar bene is afgesny en in die omgewing gestort. Haar onderlyf is aan die brand gesteek. Daar word vermoed dat sy verkrag is voordat sy vermoor is.

“Drie mans is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle ʼn man erg aangerand het omdat hulle hom verdink van haar moord. Hulle het die man met harde voorwerpe aangerand.”

Die drie verdagtes, almal in hul 30’s, is aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hulle sal na verwagting Vrydag in die Ga-Rankuwa-landdroshof verskyn.

“Niemand is nog in verband met Seloadi se moord in hegtenis geneem nie. Die ondersoek gaan voort. Ons hoop dat die drie verdagtes en die man wat aangerand is die polisie met hul ondersoek sal bystaan.”

Die Mmakau-polisie ondersoek haar moord. “Ons speurders gaan nie rus totdat die oortreder of oortreders aangekeer word nie,” het kol. Letlhogonolo Gause, die streek se bevelvoerder, Donderdag gesê.

Seloadi was ʼn leerling aan Amandasig Secondary School in die noorde van Pretoria.

Sanet Jacobsz, die skoolhoof, het Donderdag aan Maroela Media gesê Seloadi, ʼn graad 12-leerling aan die skool, was daar sedert graad 8.

“Sy het ʼn borrelende geaardheid gehad. Sy was altyd vriendelik en spraaksaam en sou makllik leiding neem in ʼn gesprek,” het Jacobsz gesê. “ʼn Mens het haar nooit kwaad gesien nie en sy het altyd baie gou om verskoning gevra as sy iets verkeerds aan iemand gedoen het. Ons skool gaan haar mis.”

Seloadi se begrafnisreëlings is nog nie getref nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

charlotte ·

Ek dra haar familie op in my gebede mag die varke wat dit aan haar gedoen het die doodstraf op gele word,want sulke gediertes hoort nie in die samelewing nie,wens ons kan die doodstraf net weer terug kry.

Tinkie ·

So n persoon moet baie swaar gestraf word Geen persoon verdien om so wreed vermoor te word ni .

Nic de Bruyn ·

Daar word toenemend gruweldade teenoor vrouens gepleeg.
Alle vroue moet hulle kom en gaan versigtig beplan.
Beweeg liefs in ‘n groep. Die sogenaamde “Buddy stelsel”.
‘n Mens se lewe is niks werd in hierdie land nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.