Vermiste Pta-ma se selfoon weer aktief

Madelein Murray en haar seun, Hanco. Foto: Facebook

Die 61-jarige ma van Madelein Murray (40), die sakevrou van Pretoria wat al langer as ʼn jaar vermis word nadat sy glo deur vloedwater meegesleur is, sit met nog meer vrae oor haar dogter se raaiselagtige verdwyning ná onlangse verwikkelinge.

Murray was die eienaar van Scrap Zone Recyclers, ʼn skrootwerf in Pretoria se middestad. Sy is die ma van vier seuns en ʼn dogter, tussen ses en 20 jaar oud.

Murray was glo saam met haar oudste seun, Hanco (20), in sy wit Nissan Skyline toe vloedwater die motor op 11 November 2016 omstreeks 03:00 ná swaar reën op die laagwaterbrug in Flowerstraat, Capital Park, meegesleur het.

Hanco het destyds gesê hy het bestuur toe ʼn fratsgolf die motor op die laagwaterbrug getref en in die rivier ingedruk het. Hy kon daarin slaag om sowat 1,5 km van die brug uit die vloedwater te kom en hulp by ʼn nabygeleë vulstasie te kry. Die motor se wrak is omstreeks 09:00 gevind, maar daar was geen teken van Madelein nie.

ʼn Volskaalse soektog deur die gemeenskap, Tshwane-nooddienste, die polisie se duikeenheid, honde-eenheid en soek-en-reddingseenheid, van so ver as Benoni en Bronkhorstspruit, is van stapel gestuur. Die polisie se lugvleuel was ook by die soektog betrokke.

Die soektog het in en langs die Apiesrivier plaasgevind oor ʼn gebied van sowat 13 km, van dié laagwater brug tot waar die rivier in die Bon Accorddam invloei en in die dam van 148 hektaar self. Die soektog is later afgelas nadat dit niks opgelewer het nie. Murray word steeds deur die polisie as vermis beskou.

Francis Venter by die Bon Accorddam waar daar vir haar dogter gesoek was. Foto: Phillip Bruwer

Francis Venter, Madelein se ma, het nadat die soektog afgelas is vir dae lank langs die rivier geloop en soek na enige tekens van haar dogter. Sy het gehoop haar dogter het iewers uitgespoel en het geheueverlies en selfs dat sy dalk nooit daai noodlottige oggend in die voertuig geklim het nie.

“Ek het nog nooit ophou soek na haar nie. Verlede jaar het ek agtergekom Madelein se nommer met haar foto is weer aktief op WhatsApp. Ek het dadelik ʼn boodskap gestuur en gesê ‘Hi hoe gaan dit?’ maar is toe dadelik geblok,” het Venter Vrydag aan Maroela Media gesê.

As sy gebel het, het die selfoon dadelik na ʼn outomatiese stemboodskap gegaan. Venter het later die dienste van Leon Nel, ʼn forensiese tegnikus en private ondersoeker, ingewin met die hoop om antwoorde oor haar dogter se verdwyning te kry.

“Ek het Woensdag op Facebook ingegaan en gesien iemand het onder Madelein se naam ʼn vreemde boodskap in Zoeloe op haar blad gemaak. Baie van haar vriende het daarop kommentaar gelewer. Ek het nie haar Facebook laat afskakel nie want ek weier om haar dood te laat verklaar tensy ek konkrete DNS-bewyse het dat sy wel dood is,” het Venter gesê.

Venter het gesê sy weet nie hoe dit werk dat ʼn selfoon “wat onder water was” weer kon werk nie en dit het weer tot die vrae gelei of haar dogter in die motor was daardie betrokke oggend en wat ook van haar liggaam of handsak kon geword het.

“Ek sit steeds sonder antwoorde en het al hoe meer vrae. Die onsekerheid is devastating vir my. Ek is ʼn wrak en ek hou nooit op bid vir my kind nie. Ek hou nooit op glo dat ek eendag in my kind gaan vasloop nie.”

Sy het gesê sy het baie respek vir Nel en vandat hy in Januarie na Murray begin soek het, het hy glo meer uitgerig as wat die polisie haar mee kon help. “Elke keer as ek die polisie bel het hulle net gesê daar is geen nuwe verwikkelinge nie.”

Venter het gesê Nel kon intussen daarin slaag om die selfoon in ʼn gebied naby Port Elizabeth in die Oos-Kaap op te spoor. Venter het egter gesê sy kan nie meer inligting oor die vordering van die saak bekendmaak nie aangesien dit met die ondersoek kan inmeng.

“Ek hoop en bid net dat ek binnekort antwoorde kan kry en dat die waarheid net kan uitkom sodat ek berusting kan vind, want die onsekerheid vreet my op.”

Hanco het op sy ma se misterieuse Facebook-plasing kommentaar gelewer en gesê dit is iemand in Brits wat die foon gebruik. “Ek het gebel toe ek sien haar WhatsApp is aktief toe tel iemand op wat klink soos ʼn bruin man. Toe sit hy die foon af en blok my op WhatsApp. Dis die eerste keer wat ek nou sien haar Facebook word ook gebruik,” het hy geskryf.

Blackie Swart, ʼn private ondersoeker van Icatch Investigative Consultants, het die volgende moontlike rede vir die plasing gehad. “Die selfoonnommer is heel waarskynlik heruitgereik. Die selfoonnetwerke doen dit nadat ʼn simkaart vir lank onaktief was. Die gebruiker het waarskynlik die nommer in Facebook getik en op haar profiel afgekom. Met die nommer kan die gebruiker haar [Murray] wagwoord kry deurdat Facebook net ʼn pinkode na die selnommer toe stuur om die wagwoord te verander,” het hy geskryf.

Die Wonderboompoort-polisie, wat Murray se verdwyning ondersoek, was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

Lees alle vorige berigte oor Madelein Murray op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Ai tog! ·

Al wat media is gaan nou weer op hol oor niks nie. Indien jou sim card na 6 maande (180 dae) volgens Vodacom nie meer aktief is nie deaktiveer hulle die nommer en gooi dit terug in hulle stelsel om weer aan ‘n volgende persoon toegeken te word, en dit is wat hier gebeur het. Dit is ‘n jong meisie in die Oos Kaap wat nou hierdie nommer het. Dit is hoekom die ma nou orals geblok word, want sy hou aan om die nommer te skakel om na die nommer whatapps te stuur. Natuurlik gaan nie nuwe eienaar jou blok. Die privaat speurder wat nou op die saak werk ruk nou die dam onder die eend uit en vra onnodige koste van die vrou. Haar sel nommer was seker gelink met haar FB profile, want myne is gelink met my FB, so as jy die sel nommer in sit dan is jy dadelik op die persoon se FB. Ek sien niks verdag omtrent die hele storie nie.

snoefie ·

was dit net so bietjie van die pad af van die jong meisie om die fb profiel oop te maak nie? of om die whats app met die ouer dame se pp te gebruik nie? leer julle kinders asb morele waardes.

Gerhard ·

Dit sal beter wees vir die familie om haar sosiale media rekeninge toe te maak. Identiteitsdiefstal is ‘n groot risiko as iemand se tel no weer beskikbaar raak. In ‘n land waar misdaad hoogty vier is so iets te verwagte.

Vraagteken ·

Cherokee, wat is jou mening hieromtrent? Jy is heel skerp.
Skrootwerf het aan die oorledene (vermisde) behoort/ geen lyk gevind/ geen handsak gevind/
foon gevind maar nie nat of vernietig nie (alhoewel sy in die voertuig was wat in vloedwater meegesleur was)/haar WhatsApp nog aktief/
seun en Ma saam in voertuig toe dit om 03:00 meegesleur was / Seun ongedeerd. Ensovoorts.

Alberta ·

Ek beskou Cherokee en paar ander hier op maroela ook as n wyse leier, ons moet op platforms soos hierdie organiseer, leiers identifiseer, planne maak om onsself te beskerm.

Ai tog! ·

Hulle het nie die foon gekry nie en ook nie die handsak nie. Het julle gesien hoe het die voertuig gelyk wat uit die water gekom het. Die simkaart is outomaties na 6 maande deur vodacom gedeaktiveer en die nommer is terug in hulle stelsel in en aan iemand anders toevallig in PE weer toegeken. As jy ‘n handsak in daai vloedwater kon kry en die foon ………… sterkte vir jou! Die seun wat bitter baie gelukkig om dit te oorleef. Die arme ma gryp na grashalms wat nie meer daar is nie. Die ma se verskoning is sy het nie ‘n doodsertifikaat gehad om die FB profiel te verwyder nie, want sy het nog nie haar kind doodverklaar nie. Jy het nie ‘n doodsertifikaat daarvoor nodig nie. Daar was ‘n kind verlede jaar ook deur die oorstromings weg gespoel en ook nog nooit gekry nie, of is daar ook een of ander misdaad daar gepleeg. Hierdie is die natuur, en jy kan ongelukkig nie altyd teen die natuur baklei nie. Die natuur is ‘n baie magtige ding.

Cherokee ·

Vraagteken en Alberta, baie dankie vir kompliment :-)
Ek dink nie hier het iets onverklaarbaar of vuilspel gebeur nie. Ek het ‘n reeks mobiele telefoonnommers gehad wat op mekaar gevolg het (sewe daarvan) en 5 opgehou gebruik. Gebruik nou net twee daarvan en Vodacom het bloot die 5 wat nie gebruik is nie, heruitgereik, soos ‘n ander kommentator ook noem. Die vrou van wie vertel word het klaarblyklik ‘n geslaagde onderneming bedryf en dit klink nie asof sy sou wou wegraak nie. Dink dit is net een van daardie gebeurtenisse van die lewe.

Quentin ·

Sodra ‘n selfoon nommer vir geruime tyd nie gebruik word nie, “recycle” die netwerk die nommer en gebruik dit weer.

anton ·

Daar is selfone wat waterdig is en selfs sal werk as dit onder die water is en was.
En water vernietig nie noodwendig n simkaart nie.

Vraagteken ·

Francis Venter (vermisde) se Ma sê selfoon (sein?) Was in PE area opgespoor, Hanco (seun) sê egter dis in Brits.
Maroela-lesers,lees ASB die berig.
Kom ons sit koppe bymekaar.

Kobus ·

Meer as n jaar en 4 maande gelede het ek ook kommentaar oor die voorval op hierdie forum gelewer…ek was verwyt omdat ek ongevoelig en simpatiekloos was aangande my verwysing dat n mens in die Apiesrivier nie net kon verdwyn…al was daar n fratsvloed..sonder n liggaam of enige teken van identifikasie of kledingstuk…het dit ook op skrif gesit dat ek onvoorwaardelik sal verskoning vra as ek verkeerd bewys kon word deur haar lyk gekry sou word…ek staan steeds by my standpunt…daar erns gemenespel…kruusig my maar weer.

Wdp ·

Die speurder kan mos die selfoon maatskapy nader om te sien aan wie nommer heruitgereik is

Piet Pompies ·

Dit is waar dat die nommer weer uitgeryk word as dit onaktief raak. Die selfoon maatskappy is veronderstel om die nommer skoon te maak. Maw alle kontakte, kontrakte en subskripsies wat met die nommer verbind is word verwyder. FB kan nie toeganklik wees nie, iets is vreemd…

Gerhard ·

Jammer, maar ongelukkig is dit nie hoe dit werk nie. Ek weet uit eie onderevinding sosiale media netwerke werk nog op die nommer na dit van “eienaar” verander is. Dit is die jou eie (of familie) se plig om seker te maak ander kan nie jou rekeninge gebruik nie.

Mimi ·

Dit lyk vir my asof daar nie deeglike ondersoek gedoen was deur die polisie nie. Dalk weet die persoon wat die vermiste dame laaste gesien het, haar seun, meer as wat hy bekend maak! Die ma van die vermiste vrou, moet die Kommissaris van daardie polisiestasie gaan sien en vra of hul al di betrokke partye behoorlik ondervrae het. As nodig moet sy dit verder eskaleer. N mens sien soveel Tv dokumentere wat wys hoe n nuwe ondersoeker op n saak, met vars oe na die feite kyk en die legkaart aanmekaar sit. Iets klop beslis NIE! Die liggaam sou al lankal in di rivier of dam opgeduik het. Ek wonder wat sal die selfoon inligting van die seun wat die kar bestuur het, wys, waar was sy selfoon-sein vir ure, deur “watter torings” opgetel ?

Vraagteken ·

Kobus, ek stem 100% saam met jou. Lesers moet ons dan maar kruisig.
Die vermisde se Ma gaan deur hel en as ons kommentaar haar
of die saak moontlik kan help,moet ons dit lewer! Wat was jou aanvanklike gevoel omtrent die verdwyning?

Wonder ·

Daars net een manier om uit te vind wat aangaan.Daar moet by die hof n bevel gekry word wat versoek dat die selfoon maatskappy moet sê of die nommer weer heruitgereik is en aan wie dit nou behoort. Daar is mense in daardie fam wat rasend is van bekommernis Onder andete n moeder en nog kinders.

Net n storie, nie verband maar die ou is NOOIT GEKRY. ·

So 15 jaar gelede in n oos kaapse dorpie by die dam, was daar n bou jou eie boit en hou resies kompetisie. Die persoon was saam met vriende op die self geboude boot. Die ou het uit geval, of boot het om getip. Anyway hy kon nie swem en is nooit weer gevind nie.
Dit maak seer, ja. Die geval in die berig is dalk vuil spel. Die een waar oor ek skryf nie. Ek ken al twee gesinne en bly stil oor waar ens. Maar die dam waar dit gebeur het is baie diep en groot. Dit is of was die water reservoir van die dorp.
So voor jul sherlock holmes speel dink mooi.

Alida ·

Ek laat my nie vertel as sy in die vloed beland het NIEMAND nog op iets afgekom het nie. Hier is iets baie snaaks aan die gang. Dik vet rot.

madels ·

Haar seun moet n bietjie meer ondervra word. N kind wat sy ma liefhet sal met alle mag probeer om sy ma uit daai wrak saam met hom te kry, indien moontlik? Niks maak hier sin vir my nie. Ek weet as so iets met my en my seun/s moet gebeur sal hulle hul lewe vir my afle….. dis n baaaaie eienardige storie DIE!

Kobus ·

Vraagteken om jou vraag te beantwoord….vroeer het ek kommentaar gelewer dat die voorval my nie sin maak…in vroee oggendure op laagwaterbrug…waar daar wel gewaarsku is deur die plaaslike owerhede dat fratsvloede kan voorkom…die Seun het bestuur…moontlik nog onervare in sulke omstandighede…maar die verdwene vrou se Ma is vir weke langs die Rivier en dam op soek na iets konkreets van haar verdwene dogter…sy bid en hoop…maar nerens word melding gemaak dat hyself ook help soek en sy Ouma bystaan…snaaks as daar versekering ter sprake is…doen mense soms snaakse goed en neem besluite wat kan boemerang…

W Coetzee ·

Ek wonder ook wat gaan tans by haar besigheid aan. Is dit verkoop, bedryf die seun dit of dalk familie lede of dalk vreemdelinge.

Vra net ·

Maroela-lesers,
Paragraaf 7 van die berig:
“Sy het gehoop haar dogter het lewendig uitgespoel en het geheueverlies en selfs dat sy nooit daai noodlottige oggend in die voertuig geklim het nie”
-(0ngeluk het 03:00 gebeur)
So hoekom daai tyd van die oggend van die ongeluk in die voertuig klim?
Paragraaf 12 van die berig:
“Ek hou nooit op glo dat ek eendag in my kind gaan vasloop nie”
Ipv
Ek hou nooit op glo dat my kind nog lewe nie?

Linda van Mosselbaai ·

Met die Apiesrivier nou weer in vloed het ek gewonder of hulle al die dame gekry het. So hartseer om te hoor – NEE! Baie sterkte aan almal wat vir haar lief is & wat haar geken het. Sterkte ook aan hulle wat hierdie ondersoeke moet doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.