Vermiste Pta-man se voertuig gevind

Johan Heyns. Foto: Facebook.

Johan Heyns, die 37-jarige man van Montana in Pretoria wat byna ʼn week gelede vermis geraak het, se Subaru-voertuig is Maandagaand in Uvongo in KwaZulu-Natal gevind.

Heyns, ʼn bestuurder by Spar, se klere was in die voertuig.

Natasha Heyns, sy vrou en ma van hul twee kinders, het Donderdag aan Maroela Media gesê sy is tans op pad terug huis toe van die lughawe af. “Ons het self die kar gesien. Dit is sy kar,” het Heyns gesê.

Daar is volgens haar tans ʼn soek-en-reddingspan van die polisie uit op die see en die omliggende gebied om na Heyns te soek. “Ons weet nog nie of hy moontlik te voet êrens heen op pad is nie.”

Heyns sê die egpaar se twee kinders, onderskeidelik vier en sewe jaar oud, vra heeltyd na hul pa. “Ons is nou nog heeltyd by my ma, so ouma verduidelik maar ons soek na hom. Ek was deur ʼn baie emosionele stadium maar ek moet terugkom en sterk wees vir my kinders,” het sy gesê.

Heyns sê die gesin het niks vermoed toe Johan die oggend van 19 Januarie soos normaal werk toe gery het nie. “Alles was soos dit altyd is, hy het ons normaal gegroet – daar was nie enige tekens nie.”

Heyns sê polisie het haar Maandag gebel toe hulle die voertuig aangetref het en sy het haar man se Sharks-hemp en bruin Bronx-skoene herken.

Die egpaar sal in Maart agt jaar getroud wees.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig dat ‘n vermiste persoon-saak ondersoek word. Hy het ook bevestig dat Johan se motor intussen in KwaZulu-Natal gevind is. Die ondersoek duur voort.

Johan en Natasha. Foto: Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Maryke ·

Goeie naand
Dit is met groot dankbaarheid wat ons jul in kennis stel dat Johan Heyns veilig opgespoor is. Geen verdere inligting is beskikbaar.
My gebed is dat julle die gesin se privaatheid sal respekteer en jul storie hier sal afsluit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.