Vermiste Pta-man waarskynlik nié gekaap

Louis de Villiers word sedert verlede week vermis. (Foto: Verskaf)

Louis de Villiers, die man wat verlede week spoorloos verdwyn het nadat hy by sy huis in Monumentpark in Pretoria weg is, is waarskynlik nie gekaap nie.

Die 35-jarige De Villiers, ʼn pa van twee, se bakkie is Woensdag, enkele ure nadat van by die huis vertrek het, by die Letlabile-winkelsentrum in Brits, Noordwes, aangetref. Sy beursie, ID, rybewys en sy gereedskap was nog in die bakkie.

Daar was egter geen spoor van De Villiers, wat sy eie instandhoudingsonderneming bedryf, nie.

Die private ondersoeker Mike Bolhuis wat betrokke is by die soektog na De Villiers, sê daar kan op beeldmateriaal van die sentrum gesien word hoe De Villiers stilhou, met een van die karwagte gesels en dan wegstap.

Die beeldmateriaal wys dat De Villiers op ʼn grondpad agter die sentrum, in die rigting van ʼn hoofpad, wegloop.

Hennie Viljoen, wat die private ondersoek na De Villiers behartig, sê De Villiers se selfoon het uit sy bakkie verdwyn nadat dit ure lank ongesluit by die sentrum gestaan het. Dit is egter reeds teruggevind.

“Ons is seker dat hy nie gekaap is nie. Hy het self die voertuig daar parkeer en weggestap. Ons weet nog nie waarheen hy is nie. Hy het boonop niks by hom nie,” sê Viljoen.

Maroela Media het Sondag berig bloed is in De Villiers se motor gevind. Kol. Adele Myburgh het aan Maroela Media gesê die bloed is duidelik sigbaar. DNS-toetse moet nou bevestig of die bloed wel dié van De Villiers of dalk ’n dier s’n is.

Bolhuis sê mense verdwyn om verskillende redes, wat insluit mediese probleme, omdat hulle die slagoffer van ʼn misdryf is of wanneer hulle doelbewus kies om te verdwyn.

“Ons vermoed dat laasgenoemde hier die geval is,” sê Bolhuis.

Bolhuis het ook gesê bloed is in die voertuig gevind, maar meen dit is nie van so ʼn aard dat dit kommerwekkend is nie.

Hy het ʼn beroep op De Villiers gedoen om, indien dit enigsins moontlik is, dadelik die owerhede of die ondersoekspan te kontak.

De Villiers se ma, Nicolene, het vroeër gesê hulle is innig bekommerd oor De Villiers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Misky ·

Die storie begin nou ‘n snaakse wending neem……. Hoop hy is werklik ongedeerd en word veilig gevind ter wille van sy ma en familie

Cherokee ·

Nie snaakse nie maar eerder positiewe wending.
Miskien het hy bloot toegegee aan ‘n impuls wat baie mense somtyds ervaar…. om weg te gaan en vir ‘n tyd minder sigbaar, tussen die massas te wees.

Casper ·

Met ander woorde hy wou voorgee dat hy gekaap is.Dit klink nie baie goed nie en sekerlik het hy ‘n ernstige probleem.Het iemand by die pad hom opgelaai.Net hy sal kan antwoorde gee.Hy kan mos net laat weet dat hy wel is.Ek wonder hoe het sy selfoon verdwyn en waar of by wie is dit terug gevind.Die bakkie was dan gesluit.

melaney ·

Casper lees die berig weer. Die bakkie was nie gesluit nie.

Cherokee ·

..en geen rede om te dink hy wou voorgee nie. Miskien bloot impulsief gehandel.

piet ·

Kan wees dat hy een of ander mediese episode gehad het. Het al gebeur dat mense net eenvoudig na so ‘n aanval nie weet waar of wie hulle is nie. Dalk die wag gevra wat is die naaste roete na die hoofpad en toe geloop (waarskynlik nie eers geweet of dit sy kar is of dat hy kan ry nie). Vandaar af kon enigiets gebeur het……

Cherokee ·

Die wag sou ondervra gewees het. Daar word nie gesê wat die sekuriteitswag vertel, waaroor hulle gepraat het, nie.

LD ·

Waarom het hulle nog nie die karwag ondervra nie? Dalk het Dr Villiers iets vir hom gesê wat die ondersoekspan kan help met hulle soektog na hom….

Nella ·

Hoe moet die karwag weet wat hy nou vir elke mens sê wat met hom praat? Hulle praat elke dag met 100e mense. Nou moet hy een spesifieke een onthou waarmee hy n week terug gepraat het. Ek onthou nie eers wie ek gister in die mall gegroet het nie

Estelle ·

Nella, as hulle vir die karwag die beeldmateriaal wys, behoort hy iets te onthou.

Belinda ·

Die karwag moes seker onthou het wat of hoe die ou se reaksie was siende die karwag seker moes agter kom dat hierdie voertuig d hele dag daar staan en weereens die volgende dag. Dit is mos nie normaal nie. Die karwag moes seker die ou se “body language”lees as daar nie baie gepraat was nie.

Darts girl ·

Ek hoop en bid regtig vir sy familie dat hy veilig is en dat hulle hom sal vind

Mariaan ·

Hoop hy is veilig…baie moeite en mannekrag ingespan om hom te vind…hoop nie hy mors almal se tyd nie! Ter wille v sy familie hoop ek hy is ok…en as hy is..laat weet hul net…ai

KhoiKhoi ·

Dink net aan sy familie en die angs.
Dink dit is die ergste.
As jy weet waar jou kind is nie, wat het hy oorgekom, leef hy, ens.
Laat my dink aan die kinders wat ontvoer was deur die paartjie in Pretoria.
En talle meer.
Bid datek nooit so iets moet deurgaan nie.
Bid vir die gesin

Swerwer ·

Daar kan baie redes wees waarom Louis so opgetree het. Moenie oordeel nie. Vandag se lewe is een harde taai toffie en baie mense knak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.