Vermiste Pta-pa op unieke wyse herdenk

Kevin (28). Foto: Verskaf

Kevin (28). Foto: Verskaf

Vriende en kollegas van Kevin Annandale (28), die tegnikus en pa van Pretoria wat in Oktober in die see by Sodwanabaai in KwaZulu-Natal verdwyn het, het sy lewe oor die naweek op ʼn unieke wyse herdenk.

Annandale, van Capital Park in Pretoria se Moot-omgewing, het die afgelope paar maande in Piet Retief in Mpumalanga gewoon, vanwaar hy gewerk het as tegnikus vir Skinner Constructions.

Hy was saam met kollegas op ʼn wegbreeknaweek by Sodwanabaai, kort na sy 28ste verjaarsdag, toe die tragedie hom afgespeel het. ʼn Sterk stroom het Kevin en twee van sy kollegas, Michael Louw en Mario Bouwer, op 15 Oktober omstreeks 17:40 meegesleur toe hulle gaan swem het. Hy is dieper die see ingetrek voordat hy verdwyn het. Sy kollegas kon ná ʼn groot gespook daarin slaag om die strand te bereik.

Kevin Annandale se gedenksteen. Foto: Verskaf

Kevin Annandale se gedenksteen. Foto: Verskaf

Louw het kort ná die voorval aan Maroela Media gesê hy en Bouwer wou etlike kere tou opgooi toe hulle al dieper die see in meegesleur is. Hy het gesê hulle verwyt hulself dat hulle Annandale nie verder kon help nie.

Louw en Bouwer was deel van die groep van sewe kollegas wat die naweek terug Sodwanabaai toe is om ʼn gedenksteen vir Annandale op te rig, al is sy liggaam steeds nie gevind nie.

“Dit was vir ons baie moeilik om weer die plek te besoek, maar in ʼn mate kon ons berusting vind,” het Louw Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Hy het gesê Annandale se terreinbestuurder, Francois Kotze, het vir die steen betaal. ʼn Professionele duiker het die steen op ʼn rif onder die water gaan sit en foto’s en ʼn video daarvan geneem vir Annandale se geliefdes.

“Aangesien die gebied ʼn erfenisterrein is, mag die steen nie daar bly nie. Francois het ʼn lodge in Sodwanabaai en die steen is teruggebring na die oppervlak en gaan ʼn permanente staanplek by die lodge kry, waar ons en sy familie dit kan besoek.”

Louw het gesê die foto’s en video sal binnekort aan Annandale, wat ʼn seuntjie en dogtertjie het, se geliefdes, waaronder sy pleegouers en biologiese ouers, verskaf word sodra dit verwerk is.

Lees die vorige berigte oor Kevin Annandale op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hugo ·

Skoon in trane! wat ‘n mooi gebaar. gebede vir die familie wat agterbly.

Sonike ·

Mis my boetie baie. Baie dankie aan sy vriende en kollegas vir die mooi afskeid.

Rus in Vrede my boetie. Tot ons weer sien.

Melanie ·

Dis baie mooi ,dankie aan almal ! mes deur die hart- maar tog so mooi. ons gaan weer ontmoet dis die troos prys om te weet ons gaan hom weer sien. hy sal nooit ontslae van my kan raak nie.
sy dogtertjie verstaan nie lekker wat aan gaan nie , sy is die kosbaarste deel van hom wat ek veraltyd sal treasure . ons sal jou altyd lief he, en altyd hoop dat jy eendag uit die bloute uit hier by ons uitval. ons verlang vreeslik na jou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.