Vermiste Pta-vrou se liggaam steeds nie gevind

Dawn Basdeo. Foto: Facebook

Die liggaam van die 57-jarige Dawn Basdeo van Pretoria wie se man verlede week in verband met haar dood in hegtenis geneem is, is steeds nie gevind nie.

Prem Emmanuel Basdeo, Dawn se eggenoot wat verlede week op aanklag van moord in hegtenis geneem is, het Donderdag vlugtig in die Pretoria-landdroshof verskyn waar die saak tot volgende week uitgestel is.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, sê Basdeo kon in dié stadium nog geen leidrade oor sy vrou se dood of waar haar liggaam gestort is aan die polisie bekend maak nie.

“Die polisie werk onverpoosd om dié raaisel op te los,” sê sy. “Ondersoekspanne is al ʼn paar kere saam met Basdeo na tonele waar hy beweer het haar liggaam gestort is, maar dié sogenaamde tonele het nog nie een keer vrugte afgewerp nie. Met elke geleentheid gee hy nuwe inligting aan die polisie; dis onduidelik of hy self nie kan onthou nie en of hy bloot net kat en muis met die polisie speel.”

Weilbach sê die polisie het intussen al die onderskeie Gautengse-polisiestasies gevra om ondersoekbeamptes van dié saak onmiddellik in kennis te stel wanneer die liggaam van ʼn middeljarige Indiërvrou opgespoor word.

“Dis vir ons belangrik dat die familie ʼn mate van afsluiting kry,” sê sy. “In dié stadium wroeg hulle met baie onsekerhede.”

Basdeo sal weer op 26 Junie vir ʼn formele borgtogaansoek in die hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Dawn is op 8 Junie vir die laaste keer lewend by haar huis in Brooklyn gesien. Basdeo het aan die polisie gesê dat sy op dieselfde dag omstreeks 09:00 weg is na die Little Company of Mary-hospitaal, maar nooit by die hospitaal aangekom het nie en ook nooit teruggekeer het huis toe nie.

ʼn Grootskaalse soektog is kort hierna van stapel gestuur. Haar silwer Mercedes Benz-motor, wat Dawn glo gebruik het toe sy vermis geraak het, is verlate in Soweto gevind.

Basdeo word ook aangekla van dwarsboming van die gereg en meineed omdat hy glo oneerlik was in sy aanvanklike verklaring aan die polisie. Die ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.