Vermiste SA-jagter: Só het soektog verloop

Scott van Zyl (Foto: Verskaf)

Hoewel oorskot van Scott van Zyl, ʼn beroepsjagter van Limpopo wat op 7 April tydens ʼn jaguitstappie in Zimbabwe vermis geraak het, twee weke gelede binne drie krokodille gevind is, gaan die ondersoek na sy dood steeds voort.

Die Zimbabwiese Professionele Jagters- en Gidsvereniging (ZPHGA), Limpopo Jagtersforum (LHLF) en die Professionele Jagtersvereniging van Suid-Afrika (Phasa) het Maandag ’n gesamentlike verklaring met toestemming van Van Zyl se familie uitgereik.

In die verklaring word die gebeure uiteengesit wat gevolg het nadat Van Zyl vermis geraak het. Maroela Media het vroeër berig ʼn grootskaalse soektog is van stapel gestuur nadat Van Zyl vermis geraak het toe hy saam met ʼn groep buitelandse jagters in Zimbabwe gaan jag het. Een van Van Zyl se honde het glo vermis geraak en hy het na die hond gaan soek. Hy het sy vuurwapen in sy voertuig agtergelaat, maar nooit teruggekeer nie.

Verskeie reddingspanne van Zimbabwe en Suid-Afrika het aan die soektog, wat op die grond en vanuit die lug gedoen is, deelgeneem. Die dag nadat Van Zyl vermis geraak het, het ʼn soekspan sy rugsak gevind waar dit op die Zimbabwiese oewer van die Limpopo-rivier gelê het.

Die enigste konkrete leidrade wat gevind kon word, het daarop gedui dat die soektog rondom die Limpopo-rivier moes fokus en die dienste van ʼn onderwatersoekspan is bekom om in die rivier self te soek. Teen Woensdag 12 April is die onderwatersoektog opgeskort en is toestemming verkry om drie krokodille in die rivier te skiet as deel van die ondersoek.

Twee krokodille is die middag geskiet en menslike oorskot is binne hulle gevind. Toetse het later die DNS van die oorskot positief met Van Zyl verbind. Die volgende dag is ʼn derde krokodil geskiet en ʼn gedeelte van ʼn skoen soortgelyk aan die skoen wat Van Zyl gedra het toe hy vermis geraak het, is binne hierdie krokodil gevind. Die soektog is toe finaal afgelas.

Oudkol. Sakkie Louwrens, direkteur van die Heritage Protection Group (HPG) wat met die soektog gehelp het, het Dinsdag aan Maroela Media gesê ʼn geregtelike doodsondersoek wat deur die Zimbabwiese polisie gedoen word, gaan steeds voort. “In hierdie stadium word geen vuilspel vermoed [ten opsigte van Van Zyl se verdwyning] nie, tensy ons inligting bekom wat andersins aandui,” het hy gesê. Hy het gesê dit sal nie moontlik wees om deur middel van forensiese toetse die oorsaak van Van Zyl se dood te bepaal nie.

Intussen het Phillip Bronkhorst, voorsitter van die LHLF, Van Zyl as ʼn ware familieman beskryf wat sy lewe voluit geleef het. “Ons harte gaan uit aan Scott se vrou, Suré, en hul twee kinders. Scott sal onthou word vir die passie wat hy vir sy beroep en die lewe oor die algemeen gehad het,” het Bronkhorst gesê.

Van Zyl was die eienaar van SS Pro Safaris en het op die uitvoerende komitee van die LHLF gedien.

Die Zimbabwiese en Suid-Afrikaanse verenigings en organisasies wat by die soektog betrokke was, het alle betrokkenes, donateurs en vrywilligers bedank vir hul onbaatsugtige ondersteuning, tyd, toerusting en finansiële bydraes.

Lees die vorige berigte oor Scott van Zyl op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Huggy bear ·

Die.feit dat menslike oordkot verbonde aan die jagter in drie verskillende krokodille gevind is dui dalk daarop dat hulle onafhanklik aan sy liggaam ge-eet het.
Dit dui daarop dat die jagter dalk al oorlede was voordat die krokodille hom gevind het.
As hy lewendige oorval was sou net een krokodil vir sy dood verantwoordelik gewees het en sou slegs een krokodil menslike oor skot bevat het.
So kon sy dood veroorsaak gewees het deur interne medies redes soos hartaanval of andetsinds is hy dalk vermoor en op die rivieroewer gelaat sodat die krokodille hom kan vind en so die misdaad verdoesel.

Eric ·

Stem nie saam een kon hom gevang het en hul is oppertunities so hul sou saam geeet het

Rina Vermeulen ·

Baie intessante feite Huggy bear hoop die ondersoekspan werk ook hieraan .

Anette ·

Dankie dat julle die berig vir ons geplaas het. Het gister die opskrif in die betaalkoerant gesien en wou dit so graag lees. Kan julle asseblief vir ons die berig oor die plaasvrou wat 4 keer beroof en om die beurt vir dae lank deur die aanvallers verkrag is, ook plaas. Ons het nie op die oomblik toegang tot die betaalkoerant nie vanweë finansiële beperkinge in ons begroting. Baie dankie.

Estelle Potgieter ·

Hoekom sal ‘n ervare jagter sy geweer in die bakkie agterlaat? Hoekom het hy en sy spoorsnyer se paaie geskei? Baie vrae……

Tien ·

Tien uit tien vir die duikspan wat die skuldige krokodille geidentifiseer het, dit moes skerp brein en ervaring vereis.

Liza ·

Dis ook my eerste reaksie,waarom jou geweer los en al jou ander goed saam dra. Tensy hy gedink het sy hond kan nie ver afgedwaal het nie. Ek wil graag weet of die hond wat hy gaan soek het ook saam met die ander by die kamp aangekom het?

rb ·

Hond het terug gekeer.
1. Vat rugsak saam, en los geweer?
2. Hoe het die owerhede of duik span die krokodille geïdentifiseer?
3. As hul oorskot in eerste een kry, hoekom nòg TWEE skiet?
Sal dit waardeer as iemand profesioneel die identifikasie van die krokodille sal verduidelik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.