Vermiste skubaduikers gevind

Snyman en Damoense word gered. Foto: NSRI

Twee skubaduikers wat vermis geraak het tydens ’n duikuitstappie is sowat twee uur later en 8 km verder ongedeerd gevind.

Ian Gray, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Port Elizabeth-stasie, het gesê hulle is Sondag omstreeks 9:33 deur de Noordhoek Skiboot Klub in kennis gestel dat twee skubaduikers vermis geraak het tydens ’n duikuitstappie sowat twee seemyl van die kus by Kaap Recife.

Volgens Gray het ’n groep skubaduikers saam geduik, maar is die duik weens swak sigbaarheid opgeskort. “Van die duikers en die duikmeester het terug op die boot geklim. ’n Duikinstrukteur en studenteduiker het ’n ent van die boot af na die oppervlak gekom, maar weens die oggendson kon die ander mense op die boot hulle nie sien nie. Die twee duikers kon wel die boot sien maar het stadig begin wegdryf.”

Die bemanning op die boot het dadelik na die twee duikers begin soek. “Die Noordhoek Skiboot Klub het ’n boot na die toneel ontbied terwyl drie ander bote ook na die toneel gestuur is. Die NSRI het ook twee bote gestuur terwyl die provinsiale nooddienste, die polisie se duikeenheid en ander partye ook ontbied is. ’n Helikopter is ook ontplooi om met die soektog te help.”

Volgens Gray het polisieduikers op die toneel begin soek terwyl die bote en helikopter ’n soekarea begin fynkam het. “Ons het omstreeks 12:13 op die twee duikers afgekom. Hulle was sowat 8,3 km noordoos van die area waar hulle geduik het.”

Sean Lunnon van die NSRI saam met Snyman (middel) en Damoense (regs). Foto: NSRI,

’n Reddingswemmer het die twee duikers uit die see op die boot gehelp. “Hulle is vir ligte hipotermie behandel. Hulle was redelik moeg en baie bly dat hulle gered is. Die twee duikers is na die Noordhoek Skiboot Klub geneem waar paramedici hulle ondersoek het. Hulle het geen verdere mediese behandeling benodig nie.”

Volgens Gray het die twee duikers bevestig dat die son agter hulle was en hulle die boot kon sien, maar dat die bemanning op die boot hulle nie kon sien nie. “Hulle het verder weggedryf tot hulle naderhand nie meer die boot kon sien nie. Terwyl hulle weggedryf het, het hulle hulself gemaklik gemaak en bymekaar gebly. In ’n stadium het hulle die helikopter gehoor en geweet ’n soektog is van stapel gestuur. Hulle het ook later die bote se enjins gehoor.”

Die duikinstrukteur is geïdentifiseer as die 45-jarige Jean Snyman en sy student as Rezano Damoense (36).

Volgens Gray het dit ná die reddingsoperasie aan die lig gekom dat Damoense aansoek gedoen het om by die NSRI se Port Elizabeth-tak aan te sluit as ’n vrywilliger en dat sy aansoek twee weke terug goedgekeur is. Hy sal binnekort met sy opleiding begin.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oom Kalahari ·

So bly hul is gevind en ongedeerd. Nog ‘n sukses storie wat gelukkig eindig. Ook geluk aan Mnr Damoense met sy keuring en sterkte met die opleiding by NSRI.

Afrikaanse Knaap ·

Kon seker met ‘n fluitjie opgelos word, ek sal seker maak my BCD het een op.

Luister ·

Baie goeie voorbeeld van organisasie en samewerking. Wel gedaan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.