Vermiste stapper ‘stomgeslaan’ oor soektog na hom

Johann van Coller (32) het “vermis” geraak nadat hy in die Drakensberge gaan stap het. (Foto: Facebook / Barefootmagicman)

Die bestuurder van Witsieshoek Mountain Lodge in die Drakensberge het onmiddellik ʼn telefoon in Johann van Coller se hand gestop toe dié jong avonturier Vrydagoggend niksvermoedend by die lodge opdaag.

Van Coller (32) was totaal onbewus van die grootskaalse soektog wat dae tevore al van stapel gestuur is nadat sy ma, Madeleine de Villiers, hom as vermis aangemeld het.

“Raai wie het nou net hier ingestap. Ek het dadelik die foon vir hom gegee en vir hom gesê om sy ma te bel voordat ek hom by die deur inlaat,” het die bestuurder op Instagram geskryf.

De Villiers was rasend van bekommernis nadat sy langer as ʼn week niks van hom gehoor het nie. Hy het op 18 Oktober met ʼn staptog van Witsieshoek af begin en sou elke drie dae met sy ma of suster kontak maak. Sy het hom die afgelope week as vermis by die polisie aangemeld en soek‑en‑reddingspanne soek reeds dae lank onverpoos na hom.

“Dit was oorweldigend om sy stem te hoor. Hy het glad nie besef hoe groot die soektog na hom reeds was nie,” het ʼn verligte De Villiers Saterdag aan Maroela Media gesê. Volgens De Villiers het sy foon die gees gegee ʼn paar dae nadat hy die staptog begin het.

“Tipies hy, het hy besluit dat hy te ver is om om te draai en eerder die roete wil klaarmaak, sonder om te dink aan hoe baie ek my sou bekommer.”

Nadat Van Coller by die lodge aangekom het, en hy sy foon weer aan die werk gekry het, het hy op Instagram gesê hy was verbaas toe hy hoor mense soek na hom. “Terwyl ek in die berg was, besig om navorsing te doen, het ʼn hele paar mense my genader en gevra, ‘Is jy Johann?’ Dit het my dadelik laat vermoed iets is nie pluis nie en ek is terug na die beskawing om uit te vind wat aangaan.” Hy skryf hy was stomgeslaan toe hy besef hoeveel mense na hom gesoek het.

De Villiers sê sy is “lankal” nie meer kwaad nie, net bly dat hy veilig is. Sy weet nie waarheen Van Coller van hier af op pad is en wanneer hy weer na sy ouerhuis in Secunda sal terugkeer nie. “Ek gaan nie eers vra nie, ek het my les geleer.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

miavos ·

Dis moeilik om te weet wanneer presies mens moet bekommerd raak. Suid-Afrika is nié ʼn veilige land nie so dis belangrik om presiese ooreenkomste met mense aan te gaan wanneer mens op sulke togte gaan en seker te maak dat mens dit sal kan nakom.

Jeffrey ·

Ek het in die week kommentaar gelewer oor mense wat oorboot kan raak as n mens net wil wegkom en tegnologie wil ontsnap en hoe dit met my gebeur het al, maar MM weier om dit te plaas.

Janee ·

Maroela media weier om baie insiggewende kommentaar te plaas…al neem hulle jou R50 per maand om Afrikaans te probeer “bevorder”. Aanstoot mag daar nie gegee word nie….

Kattebol ·

Daar is meestal iemand wat bekommerd is oor jou ongeag hoe jy voel daaroor. Toon ‘n tikkie bedagsaamheid en sê vir hulle jy gaan vir ‘n maand of twee nie bereikbaar wees nie

AW ·

Sulke Dinge gebeur Omdat daar mense is wat vir jou Lief is en vir jou omgee, Dit insigself moet gekoester Word deur Jou!!

Pieter ·

Kan ek iets soos SpotX aanbeveel. Ons is darem in 2021.
So kan stappers en hulle geliefdes baie rustiger wees. Ek is seker daar is ook ander bekostigbare produkte was van satelliet sein gebruik maak. Ons gebruik SpotX

Kattebol ·

‘n ma se besorgdheid oor haar kinders verdwyn nie sodra hulle ‘n sekere ouderdom bereik nie. Respekteer jou familie en vriende of kollegas in daardie opsig en wees duidelik.

Skappie ·

Is baie bly dat hy veilig is. Hierdie is maar net ‘n ma. Ma’s is maar altyd bekommerd oor haar kinders, al is hulle hoe oud.

Kattebol ·

My kinders is ouer as die stapperen sê altyd “ma moenie worry nie, geen nuus is goeie nuus…”. As dit maar altyd so was.

Waarnemer ·

Johann jy was stout gewees,baie stout en ek hoop jou mammie gee jou n goeie drag slae.Mens loop nie sommer net weg en lkaat jou arme ou mammie so bekommerd nie.SIES vir jou.

Frank John ·

Geloof is soms moeilik om uit te leef in allerdaagse lewe

Heinrich ·

Dit ongelukkig die land wat die ANC vir ons geskep het, niemand is veilig êrens nie en almal is bekommerd oor almal. Die fone het tracking toepassings en mens moet konstant oor jou skouer kyk, ekstra versigtig wees wanneer jy geld trek, elke dag ‘n ander roete huis toe ry, alarms, elektriese heinings, kameras, sekuriteitsmaatskappye, meisies kan nie alleen winkels toe of hulle oë van hulle drankies afhaal in kuierplekke nie, ens. Ons is in ‘n kleinskaalse oorlog, met trots geborge deur die ANC en EFF.

Arthur ·

Onervare en onnosel. Soek publisiteit. Hy moet verantwoordelik gehou word vir al die soektog onkoste.

Hennie ·

Moeder het dalk oorgereageer .. die man is dan op n staptog. Hiekom moet hy elke dag incheck met haar…hy is mis nie n klein seuntjie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.