Die liggaam van ʼn 28-jarige man is gevind nadat hy verlede week vermis geraak het toe ʼn groep mense in die moeilikheid beland het terwyl hulle by ʼn strand in St. Francisbaai in die Oos-Kaap gaan swem het.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Maandag gesê die man se liggaam is laat Sondagmiddag sowat 300 m in die see gevind van waar die groep mense Donderdag omstreeks 12:30 in die moeilikheid beland het.
Maroela Media het vroeër berig die voorval het by ʼn strand plaasgevind wat nie deur lewensredders beman word nie. Die groep het glo in die see geswem toe hulle deur seestrome dieper in die see in meegesleur is. ʼn NSRI-reddingsboot is die water in gestuur, terwyl NSRI-reddingswemmers, munisipale en vrywillige lewensredders en twee plaaslike branderplankryers ook die mense te hulp gesnel het.
Die reddingspan kon daaraan slaag om nege mense uit die water uit te bring en paramedici het hulle onmiddellik ondersoek en behandel. Dit het toe aan die lig gekom dat die 28-jarige man nie uit die water gebring is nie.
Die NSRI se seereddingsboot, ʼn private ligte vliegtuig, ʼn polisiehelikopter, ʼn reddingspan en die polisie se duikeenheid is almal ontplooi en het sedertdien na die man gesoek. NSRI-bemanning van St. Francisbaai het Sondag op die man se liggaam afgekom.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.