Vermiste Switserse man se liggaam gevind

Nick Wiesmann. Foto: Facebook

Nick Wiesmann. Foto: Facebook

Die liggaam van Nick Wiesmann, ʼn Switserse burger wat verlede Saterdagaand in raaiselagtige omstandighede tydens ʼn troue in die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin in Nelspruit vermis geraak het, is gevind.

Albert Gryvenstein, woordvoerder van Bossies Community Justice wat met die soektog gehelp het, het aan Maroela Media gesê Wiesmann se liggaam is Saterdagmiddag laat, amper presies ʼn week nadat hy verdwyn het, in die Krokodilrivier aangrensend tot die botaniese tuin gevind.

Volgens Gryvenstein het hy en die ondersoekbeampte besluit om net ʼn laaste keer te probeer kyk of hulle Wiesmann kan opspoor. “Ons het weer in die botaniese tuin gesoek en toe besluit om vinnig met die helikopter te vlieg en te kyk of ons iets sien. Ons het mnr. Wiesmann se liggaam in die rivier op ʼn rotsbank gewaar.”

‘n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van Wiesmann se dood te bepaal.

Wiesmann se liggaam is hier gevind. Foto: Bossies Community Justice/Facebook

Wiesmann se liggaam is hier gevind. Foto: Bossies Community Justice/Facebook

Honderde vrywilligers, lede van verskeie veiligheidsmaatskappye en die polisie het die afgelope week na Wiesmann gesoek.

ʼn Soekgeselskap het kort nadat Wiesmann vermis geraak het na hom begin soek en die soektog het tot Donderdag voortgeduur. Die soektog in die botaniese tuin is hierna afgelas maar die polisie se soektog het voortgegaan.

Maroela Media het vroeër berig Wiesmann en sy vrou, Bettina, het die aand ʼn troue in die botaniese tuin bygewoon, toe Wiesmann omstreeks 18:00 gesê het hy gaan gou ʼn baadjie in die motor haal. Hy het nie weer teruggekeer nie. Die egpaar se motor het steeds gestaan waar hulle dit vroeër parkeer het, steeds met Wiesmann se baadjie in. Volgens beeldmateriaal van veiligheidskameras op die perseel is Wiesmann nooit by die hek uit waar die gaste ingekom het nie.

Die Wiesmann-egpaar, Switserse burgers, het die afgelope paar jaar in Kaapstad gewoon sedert hulle afgetree het. Hul kinders woon steeds in Switserland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

J ·

Dis jammer hy is nie lewend gevind nie. Maroela, volg asseblief op oor wat die nadoodse ondersoek sê.

jaco ·

hoe op aarde kan mens switserland verlaat en jou hervestig in die land met die hoogste misdaadvlakke ter wêreld?

Alida ·

Jaco kom by asb. Mense het keuses en nie almal dink dieselfde nie.

Piet Pompies ·

Mense wat met die omgewing bekend is weet dat die rivier deel uitmaak van die Botaniese tuin en dat een van die uitkyk punte teen ‘n helling is reg langs die rivier. So dit kon ‘n frats ongeluk gewees het.

Ander Koos ·

Met die misdaadsituasie in SA is die kans seker groter vir moord as ‘n ongeluk?

Pastoor ·

Die rede is die geld. Jy kan attree as n gemiddeld in Switserland. Dan is jy superryk hier

Kobus 4e ·

Ai julle klomp glashuis bewoners, julle oordeel, en julle het geen rede om dit te wees nie. Daar is ander redes ook hoekom mense in die land dood gaan. Nee ek loop nie met oogklappe nie, maar wag asseblief tot julle die rede vir sy dood gehoor het voordat julle begin klippe gooi, as julle dan regtig voel julle moet klippe gooi. Gelukkig is daar mense wat op die berig kommentaar gelewer het, en nie klippe gegooi het nie.

Fransie ·

Ter wille van sy familie is ek ontsettend dankbaar dat hulle hom gekry het, want ek dink hulle moes deur hel gegaan het die afgelope week. Ook n medalje vir die mense wat n laaste poging aangewend het om hom te gaan soek. Mag julle geseend wees.

Marlene ·

Baie verlig dat sy familie afsluiting kan kry. Dit was dalk natuurlike oorsake? Dankie aan almal wat onverpoos bly soek het na hom en dat julle ons op hoogte gehou het.

VerVanRyn ·

Ja, ‘n opvolg oor die na die nadoodseondersoek sal gaaf wees, want daardie area is onlangs deur ‘n bende getuiken wat mense met pangas aanval.

Amanda ·

Dit is jammer. Die mense wat weer gaan soek het (en koste van helikopter vlug aangegaan het) julle is helde. Daar is nog mense wat goeie goed doen net omdat dit die regte ding is om te doen.

Griki ·

Baie bly dat sy liggaam gevind is, maar baie jammer dat hy dood is. Innige simpatie met familie en vriende. As ek reg onthou het ek gelees dat hy soms “vergeetagtig” raak en dis dalk wat gebeur het en hy afgedwaal het.

Waarheid ·

Sterkte aan familie en jammer maar vakansieplekke MOET BAIE BETER BEVEILIG WORD, hier in ons hoogs gevaarlike land. Swak! dit doen GROOT SKADE aan reputasie mbt toerisme.

Caja ·

Alida, ek dink jy moet by kom. Jaco het ‘n baie logiese vraag gevra . En ja mense het keuses en dink anders en dit is waarom dit vir party van ons ‘n baie onverstandige besluit is om na hierdie land toe te trek. Het jy onlangs gelees of beleef hoe gevaarlik dit hier is?

Estelle ·

Caja, ek stem saam met jou, jy is heeltemal reg. En, inteendeel, ek lewe liewer as ‘n gemiddelde in Switserland as superryk in Suid-Afrika.

Bianca ·

Dis baie hartseer, my gebede gaan uit na sy gesin, dat so iets moes gebeur!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.