Vernon Naude (18) se liggaam is Saterdag tydens ʼn soektog naby Gordonsbaai in die Wes-Kaap opgespoor.
“Naude is Vrydag in ʼn systroom meegesleur toe hy sy 13-jarige niggie wou red,” het Wilfred Solomons-Johannes, woordvoerder van die Kaapstad se rampbestuureenheid, gesê. “ʼn Branderplankryer het die ten volle geklede liggaam sien dryf, sowat 300 meter vanwaar hy onder die water verdwyn het.”
Die soektog het Saterdagoggend vroeg hervat na ʼn omvattende lug-, see- en kuslynsoektog Vrydag niks opgelewer het nie. ʼn Vermistepersonesaak is oopgemaak.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het vroeër bevestig Naude is oorspronklik van Eersterivier.
Vakansiegangers en inwoners word gemaan om die naweek versigtig te wees, aangesien rowwe seetoestande en systrome verwag word.