Vermiste tiener terug by ouerhuis

Jonathan van der Berg

Jonathan van der Berg

Jonathan van der Berg (18) se ma kon hom Dinsdagoggend vir die eerste keer weer vashou nadat hy sedert 19 September vermis was.

“Ons is baie verlig dat hy terug is en ons is baie bly dat hy veilig is,” het ʼn dankbare ma, Sally Schulze, Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Jonathan het die Saterdag van sy verdwyning omstreeks 19:00 sy ouerhuis in Amanzimtoti verlaat. Hy het ʼn denimbroek, grys baadjie en ʼn mus aangehad.

Schulze het gesê ʼn toeloop van verskeie sake het veroorsaak dat hy weggeloop het. “Ons het nog nie met hom gepraat nie en sal later al die vrae vra wat ons het. Dit lyk of hy oukei is. Hy het seergekry, want hy is aangerand en beroof en is getraumatiseerd. Hy slaap nou en ons sal dinge verder neem as hy reg is.”

Sy het gesê die aanval het vermoedelik verlede Dinsdag in Standerton, Mpumalanga, plaasgevind. “Soos ons verstaan, het ʼn groep mans alles wat hy gehad het, gevat, selfs die klere aan sy lyf. Hy het glo by beamptes by die Standerton-polisie klere gekry om aan te trek.”

Jonathan het Maandag omstreeks 17:00 sy pa vanaf ʼn telefoonhokkie in Pretoria gebel en gesê dat hy graag wil huis toe kom. “Ons het dadelik vriende in Pretoria gebel en hulle het hom gaan oplaai. Ons het vir hom ʼn buskaartjie gekoop en ons vriende het gesorg dat hy betyds die bus haal. Hy was omstreeks 06:00 weer in Amanzimtoti.”

Jonathan is in matriek en sal na verwagting Woensdag terugkeer skool toe.

Schulze het almal bedank wat inligting oor haar seun wyd versprei het en vir hulle gebid het. Sy glo dit het alles bygedra dat Jonathan besef het sy ouers is daar vir hom.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir almal se gebede en vir almal wat ons pleidooi geshare het nie,” het sy beklemtoon. “Woorde kan nie verduidelik hoe dankbaar ons is vir die pogings wat aangewend is om hom op te spoor nie. Dit was vir ons die ergste om nie te geweet het waar hy is nie, maar ons het altyd bly hoop. Ouers wat deur ʼn soortgelyke ervaring gaan, moet nooit moed verloor nie. Glo net en vertrou, die Here sal sorg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Martin ·

Daai blinde sambok het hom goed geraps. Toe is wegloop nou nie so lekker nie.

Beatrix Stevens ·

Ek so baie Dankbaar namens jul… dat jul seun veilig terug is by huis?? Geen mens sal besef wat n ouer moet deurmaak…. deur elke dag te wonder?? Is my kind Ok? Lewe hy nog? Het hy Kos? het hy n warm slaap plek??? Ek hoop dat die wat skade t… gevang sal word”’ Dit is regtig so onnodig??? om onreg aan n kind te doen….???

Sterke mag Jonathan gou herstel….

Asjas ·

Baie dankie dat julle meer inligting met ons gedeel het as ander mense wat onlangs in ‘n soortgelyke situasie was.
Ons kan nou ons tieners hierdie artikel wys en bewys dat dit baie gevaarlik is om weg te loop. As jy nie met iemand in die gesin kan praat nie, praat met iemand by die skool maar asb, wegloop is gevaarlik en kan jou lewe kos.
Baie dankbaar julle het jul seun terug en sterkte vir die pad voorente, hoop jul werk dinge uit.

Arizona ·

Hoekom moet kinders altyd dink hulle weet beter as ouers. Ek self is n ouer van n seun van 19 jaar. Ek kan eerlik sê hy het self vir hom n werk gekry, self n karretjie gekoop en hy betaal self sy eie kar, maar dammit die kind hou vir hom vresslik slim. Ma is altyd verkeerd en hy reg, hy weet meer as ek en weet beter as ek. Ek het nou die dag vir hom gesê as jy so slim is hoekom bly jy nog by my sal ek toe nie gevra word nou as ek trek vir wie gaan ma kook. Praat van rot tang se kind

Lise ·

Arizona, as jou seun van 19 jaar al ‘n werk het, ‘n motor gekoop het en dit self betaal behoort jy trots te wees op hom! Jy kan dankbaar wees dat hy nog by jou aan huis wil bly. Bêre eerder “rot tang” se kind en tel jou seëninge!!

Megan ·

Sterkte vir hom en julle as ouers! Gee hom net liefde an aanvaarding. Sterkte!!!!

Jacob ·

Ek is so bly jy is veilig tuis seun.
Sterkte vir julle as gesin.
Onthou jy is kosbaar en spesiaal vir God.

Tokkelossie ·

Wel gedaan aan die polisie wat vir hom klere gegee het .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.