Vermiste Tzaneen-vrou dood gevind; voertuig glo gesteel

Anita Basson. Foto: Facebook

Anita Basson. Foto: Facebook

ʼn Vermiste vrou van Tzaneen in Limpopo wie se foto oor die naweek wyd op sosiale media versprei is, is Sondag dood gevind.

Anita Basson (57) het Donderdag verdwyn en haar familie kon haar sedertdien nie in die hande kry nie. Cecile van der Nest (39), Basson se dogter, het Maandag aan Maroela Media gesê hulle het dadelik na haar ma begin soek met die hulp van talle inwoners en die polisie.

Basson se VW Polo is Saterdag naby die Tapane-informele nedersetting gevind met van die onderdele gestroop.

Haar liggaam is Sondagoggend by ʼn brug oor ʼn rivier net buite die dorp gevind. “Sy het haar eie lewe geneem,” het Van der Nest gesê. “Ons vermoed sy het daar naby die brug gaan sit, ʼn klomp pille gedrink en aan die slaap geraak. Iemand moes toe haar motor gesteel en daarmee weggery het,” het sy gesê.

Volgens Van der Nest het haar ma lank aan depressie gely. “Sy het lankal gedreig om haar eie lewe te neem, maar ek het dit nie ernstig genoeg opgeneem nie,” het sy emosioneel gesê. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van dood te bevestig.

Van der Nest het gesê haar ma was ʼn baie geliefde persoon wat graag ander gehelp het. “Ek dink dit was deel van die probleem. Sy het altyd ander mense se probleme haar eie gemaak. Sy wou altyd almal om haar versorg – daar is baie mense wie se harte stukkend is vandag. Toe ons haar gesoek het, het selfs die hawelose mense in Tzaneen gesê dat hulle haar ken. Sy het soveel mense aangeraak; daar was niemand met ʼn hart so groot soos hare nie.”

Sy het gesê die familie sal nie ʼn gedenkdiens of begrafnis vir haar ma hou nie. “Sy het ʼn briefie gelos waarin sy gesê het sy wil nie ʼn diens of ʼn begrafnis hê nie. Sy het gevra dat ons haar veras en haar as in Magoebaskloof strooi.”

Maroela Media wag nog vir kommentaar vanaf die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Debs ·

Ai eina. So ‘n geliefde mens, en alleen moes gaan. Sterkte aan die familie en vriende met die verlies.

Nadia ·

Dit is baie hartseer dat so iets in ons gemeenskap moet gebeur. Tzaneen se mense het sterk gestaan en hand aan hand na haar gesoek. Aan die familie wat treur sterkte God sal julle vertroos in die moeilike tyd.

Nico & Nadia ·

Rus sag by Jesus se voete – daar waar geen einas is nie!!! Sterkte aan die familie – ons staan agter julle! Dit was vir ons n moeilike dag saam julle, ons het dit saam jul beleef maar weet daar is doel hiermee in ons lewe!!!

Francois ·

Daar is GEEN doel hiermee nie. Dis blatante moord en natuurlik sal die skuldiges NOOIT gevang of vervolg word nie. Maar die dag kom dat ons gaan opstaan en terugvat wat ons s’n is, glo my!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.