Vermiste vliegtuig gevind

Die wit Savannah-vliegtuig wat vermis was. (Foto: Facebook via Wild Coast South Africa)

Die vermiste ligte vliegtuig met twee insittendes wat Woensdagmiddag tydens ʼn toetsvlug in die Oos-Kaap vermis geraak het, is Vrydagoggend gevind.

Santjie White, hoof van die lugvaart-soek-en-reddingskoördineringsentrum (ARCC), het aan Maroela Media bevestig die wrak van die vliegtuig is in ʼn beboste gebied naby Morgansbaai gevind. Sy het gesê die twee insittendes is in die ongeluk oorlede.

“Ons kan nie in die stadium die name van die oorledenes bevestig nie, aangesien al die belanghebbendes by die saak eers in kennis gestel moet word. Die burgerlugvaartowerheid sal nou die voorval verder ondersoek,” het White gesê.

Sy het bevestig die wrak is tydens ʼn grondsoektog van een van die soek-en-reddingspanne gevind.

White het vroeër aan Maroela Media gesê reddingsbote van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is gister uitgestuur om in die see by Morgansbaai te soek. Bote in die gebied is ook in kennis gestel van die soektog en is gevra om op die uitkyk vir wrakstukke te wees. Intussen het die lug- en grondsoektogte na die vliegtuig ook voortgeduur.

Maroela Media het vroeër berig die vliegtuig, ʼn wit Savannah-vliegtuig, het verdwyn nadat dit Woensdagmiddag laas tydens ʼn toetsvlug aan die ooskus van Oos-Londen gesien is.

White het vroeër mediaberigte ontken dat ʼn noodfakkel in die gebied afgevuur is wat soekspanne op ʼn dwaalspoor gelei het en gesê sy dra nie kennis hiervan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

thelsa ·

Die eienaar/loods/bouer van die vliegtuig se naam op verskeie webwerwe bekend gemaak. Die passasier was vermoedelik ‘n werknemer van die maatskappy wat aan die eienaar behoort het.

RIV ·

RIV… altyd vir my sleg om te lees van vliegongelukke. Ja daar is voorheen in die Media na die man gesoek, naam en alles is bekend gemaak, maar dalk moet dit eers amptelik bevestig word voordat die familie ingelig word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.