Vermiste vrou dalk by Voëlklip dood

Die pale wat om ‘n draai by die Voëlklipkrans aangebring is. (Foto: Verskaf)

Die liggaam van ’n vrou is Dinsdag in ’n motorwrak by die Voëlklipkrans in Heroldsbaai gevind nadat die motor vermoedelik vroeër die dag by dié berugte krans afgestort het.

Daar word vermoed dat die liggaam dié van Jo-Anne Lourens is wat verlede week as vermis aangemeld is. ’n Formele uitkenning moet egter nog gedoen word, het kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, gesê.

Pojie sê daar is gister na Lourens in die omgewing van die Voëlklipkrans gesoek toe die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) in George omstreeks 16:00 sleepmerke op die pad en toe ’n motorwrak gewaar het. Die liggaam van ’n vrou was nog in die motor vasgekeer.

Die motor het op dieselfde plek by die krans afgestort waar Conrad Maree verlede maand in sy bakkie afgestort het.

Dit is egter nie dieselfde plek waar Heidi Scheepers en haar twee jong kinders in Oktober 2019 in hul grys Volkswagen Caravelle by die krans af is nie, het Pojie aan Maroela Media gesê.

’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen en geen vuilspel word vermoed nie.

Dit is die soveelste lewe wat by die Voëlklipkrans verlore gegaan het – reeds die tweede vir vanjaar.

Maroela Media het vroeër berig tientalle pale van 1,8 m lank is verlede jaar by Voëlklipkrans staangemaak om te verhoed dat motors by die krans afstort.

’n Informele parkeerterrein by die krans is nou ook nie meer toeganklik nie nadat dit met klippe toegepak is.

Lees al Maroela Media se berigte oor die voorvalle by Voëlklip hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Swerwer ·

Daar was vir jare lank geen woord van Voëlklipkrans in die media nie, nou is dit skielik baie berug.
Weereens, plaas versteekte kameras in die omgewing en antwoorde sal gekry word waarom dit nou skielik so ‘n berugte plek geword het.

Marcello ·

Dit is voor die hand liggend hoekom mense daar afry….die indiividu besluiit om ‘n einde aan hulle lewe te maak.

Koen ·

En hulle gee nie ‘n duit om vir die gemors wat hulle agterlaat en die lewens van mense wat die gemors moet opruim nie.

Agtogwatnog ·

Ek moet bieg, ek het in die selfde denk rigting beweeg. Dit is te toevallig dat soveel voorvalle oor n kort tydperk daar plaas vind. Soos die engelse sal sê. “Something fishy going on here”

piet ·

Goeie idee. Dis egter hoogs waarskynlik dat mense met opset daar verongeluk.

Koen ·

Hoekom. Dis nie die pad se skuld nie. Beter idee – vra toegangsfooi en deposito om kostes te dek om die gemors later op te ruim. Die wat daar wil afry sal nie omgee om te betaal nie.

AH ·

As iemand sy eie lewe wil neem sal hy/sy dit doen. As hierdie pad toegemaak word, sal daar ‘n ander een gevind word…….

Lollapop ·

So tragies, maklike oplossing maak die pad toe maar hul sal ‘n manier vind om daar af te gaan, waarom weet ek nie dit is so ‘n mooi uitkyk

Dirk ·

Daai pale gaan nie help nie.Daar moet n sterk betonmuur gebou word..

Johan D ·

Om die pad te sluit sal sinneloos wees!
Die een wat gedink het daardie ou paaltjies voldoende gaan wees moet weer gaan dink, die ou paaltjies sal deur ʼn scalextric karretjie uit die aarde gery word!
Soos vorige kere sê ek weer, plant 3 meter spoorstawe, 3 meter uitmekaar, diep in die grond met beton en laat daar ten minste 1 meter uitsteek! Sweis lengtes spoorstawe horisontaal aan die vertikale gedeeltes! As dit nie help nie sal niks help nie!
Dit moet op die HELE pad van voor die eerste draai af gedoen word tot by die uitkykpunt! Dit help nie om paaltjies te plant waar iets gebeur nie, doen dit voor die tyd

Johanna ·

Op daardie stukkie grondpad is daar verskillende plekke waar mense kan afry as hulle so iets wil doen.
Dit kos die belasting betalers klomp geld en plaas die Reddings-werkers se lewens ook in gevaar..
Sluit die pad vir voertuie en maak dit net n Staproete..
Hopelik sal stap en die buitelug mense se depressie sommer verlig en wondere doen.♡♡♡♡

piet ·

Ek dink so. Die wat dan nog steeds daar wil af moet maar spring. Dit sal egter die herwinningsoperasie vergemaklik siende dat daar nie ‘n motorwrak sal wees om te verwyder nie.

Retha ·

En wie gaan verantwoordelik wees as daar moorde tussen die bosse plaasvind. Mense in rolstoele sal nooit meer daar kan kom nie. Moenie ander straf vir mense se eie verantwoordelikheid nie. Sluit die pad en dan voeter hul by Outeniqua-of- Montagupas af, of sommer by Kaaimans. So daar sal altyd ‘n uitweg wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.