Vermiste vrou erg aangerand gevind

Ronell Topper

ʼn 53-jarige vrou van Port Elizabeth wat sedert die begin van die maand vermis was, is Maandag met ernstige beserings by ʼn lodge in die stad aangetref.

Ronell Topper en ʼn mansvriend is op 4 April by die Sydenham Retirement Village, waar hulle albei inwoners is, weg. Hulle was glo van plan om vir ses dae weg te wees, maar het nooit teruggekeer nie.

Volgens kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, is Topper gister by ʼn lodge in Newton Park gevind nadat die eienaar die polisie genader het.

Die eienaar het Topper op die bed in een van die kamers gevind. Sy is erg aangerand en het onsamehangend opgetree.

Naidu het gesê Topper en die vriend het op 4 April by die lodge ingeboek en die eienaar wou hulle op 29 April versoek om die lodge te verlaat toe hy op Topper afgekom het.

Topper se 60-jarige vriend is intussen deur die polisie in hegtenis geneem op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Topper is in die hospitaal opgeneem.

Topper se seun het vroeër ʼn saak van ʼn vermiste persoon by die polisie aanhangig gemaak nadat hy bekommerd geraak het oor sy ma se welstand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.