Vermiste vrou se liggaam uitgeduik

misdaadtoneel

(Argieffoto ter illustrasie)

ʼn Soek-en-reddingspan het Woensdag ʼn vrou se liggaam uit ʼn dam in Lindley in die Vrystaat geduik.

Die vrou is na bewering reeds langer as twee weke vermis, maar haar familie het versuim om die polisie in kennis te stel. Haar kêrel is ook intussen in verband met haar moord in hegtenis geneem.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê Thandi Paulina Dhlamini (31) het op 23 Oktober verdwyn, nadat sy vir die laaste keer deur haar ouers en vriende by ʼn taverne gesien is.

Dhlamini se vriende en familie het haar glo nie as vermis aangemeld nie, aangesien sy vantevore al verdwyn het, net om later terug te keer huis toe.

“Dié keer het Dhlamini egter nie huis toe gekom nie,” sê Makhele.

Lede van die gemeenskap het Dinsdag op Dhlamini afgekom, nadat hulle ʼn liggaam in ʼn dam in die Thabo Mofutsanyana-munisipaliteit in die Vrystaat gewaar het.

Die polisie en forensiese ondersoekers is na die toneel ontbied. Haar liggaam is in ʼn kombers vol klippe toegedraai.

“Sy is vermoedelik deur haar moordenaar in die dam gegooi en het ook verskeie kneusplekke op haar lyf opgedoen.”

Die presiese oorsaak van haar dood is egter nog nie bekend nie.

Volgens Makhele het polisiebeamptes daarin geslaag om Dhlamini se kêrel in die plattelandse dorp Monontsha op te spoor.

“Die 30-jarige verdagte is naby ʼn drankwinkel in die gebied in hegtenis geneem.”

Die man sal na verwagting binnekort in die Petrus Steyn-landdroshof verskyn, waar ʼn aanklag van moord hom in die gesig sal staar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.