Vermoorde bejaarde: ‘Sy was so dapper’

Hantie Geldenhuys (94) is die afgelope naweek op haar kleinhoewe geskiet. (Foto: Verskaf)

“Sy was ʼn sterk en dapper vrou wat enigiets vir haar medemens sou doen.”

Só sê Coert Marais oor sy tannie, Hantie Geldenhuys (94), wat Saterdagoggend kort ná middernag op haar kleinhoewe in Kalbasfontein naby Westonaria geskiet is.

Geldenhuys se moord kom skaars ʼn jaar nadat haar neef, Sias Willemse (74), in sy huis in Bailliepark in Potchefstroom vermoor is en tien jaar nadat haar suster, Fan Liebenberg (82), in haar huis in Krugersdorp gemartel en vermoor is.

Geldenhuys het alleen gewoon. Haar man is sowat 20 jaar gelede dood en haar seun, André (68), wat ook by haar gewoon het, is in Maart vanjaar aan natuurlike oorsake dood.

Geldenhuys se boerboel, Boela, haar enigste metgesel behalwe die hoenders op die kleinhoewe, is boonop twee weke gelede vergiftig.

“Toe die hond vergiftig is, het ons vermoed hier kom moeilikheid. Ons het aangebied dat Tannie Hantie vir ʼn ruk by ons kom bly, maar sy wou nie.

“Sy was glad nie bang nie.”

Volgens Marais was Geldenhuys van die badkamer op pad terug na haar slaapkamer waar sy opgemerk het dat die venster oop is.

“Sy het gaan kyk hoekom die venster oop staan toe die verdagte haar geskiet het.

“Sy het net een verdagte gesien. Hy het ʼn masker aangehad.”

Die verdagte het drie skote afgevuur waarvan twee Geldenhuys in haar middellyf getref het. Een van die koeëls het glo regdeur geskiet terwyl die ander koeël nog in haar liggaam vasgesit het.

Marais vertel sy tannie het om die bed gekruip en haar bure oor ʼn tweerigtingradio ontbied.

Sias Willemse en sy vrou, Tobianna. Willemse is verlede jaar in sy huis in Potchefstroom vermoor. Hy was Geldenhuys se neef. (Foto: Facebook)

Vandaar het sy na die sitkamer gekruip en die voordeursleutels deur die venster gegooi sodat haar bure kon inkom.

“Hulle woon sowat 200 m van haar af en was blitsvinnig op die toneel.”

Marais, sy ma, Bets (85), en tannie, Dawn van Rensburg (77), het die oproep oor die skietvoorval sowat 00:30 gekry en van hulle plaas tussen Potchefstroom en Parys na Geldenhuys se huis gejaag.

“Daar was reeds baie mense op die toneel en een van die bure se vroue, ʼn verpleegster, het drukking op die wond toegepas.

“Tannie Hantie was op die bed toe ons daar aankom. Daar was baie bloed.”

Marais sê sy tannie was steeds by haar volle bewussyn en kon met hulle praat.

“Sy het nie eers een keer ‘eina’ gesê nie en ook nie een keer gehuil nie. Sy het wel vir my gesê ‘plaas hy my maar net dadelik doodgeskiet het’.”

Marais sê hy vermoed dis oor sy nie wou ly nie.

Geldenhuys het ’n paar uur lank op die ambulans gewag wat glo gesukkel het om die kleinhoewe te vind.

Volgens Marais is Geldenhuys eers na die Sybrand van Niekerk-hospitaal op Carletonville vervoer waar sy ʼn bloedoortapping ontvang het. Haar bloeddruk het egter laag gebly.

Geldenhuys is teen 08:00 na die Leratong-hospitaal in Krugersdorp oorgeplaas waar sy ʼn operasie ondergaan het om die koeël te verwyder.

Marais sê ʼn nier en haar milt, asook ʼn gedeelte van haar ingewande en een long moes verwyder word aangesien dit baie skade opgedoen het.

Geldenhuys se suster, Fan Liebenberg (82), is in 2011 in haar huis in Krugersdorp vermoor. (Foto: Verskaf)

Hoewel sy ná die operasie bygekom het, is Marais, sy ma en Van Rensburg teen 16:00 na die intensiewe sorgeenheid ontbied, waar hulle die nuus oor Geldenhuys se dood ontvang het.

“Ek besef sy moes gaan, want sy was al oud. Maar ek wens net dat sy nie op so ʼn wrede manier moes sterf nie.”

Marais sê hulle sal Geldenhuys baie mis.

“Sy was uiters intelligent. Tannie Hantie was jare gelede ʼn onderwyseres by Laerskool Kalbasfontein en was die afgelope paar jaar ’n algemene handelaar. Sy het ’n winkel op haar kleinhoewe bedryf.

“Sy was so skerp en kon oor enige onderwerp gesels.”

Marais sê die gebeure is baie traumaties – veral omdat dit die derde soortgelyke tragedie in die familie is.

Maroela Media het verlede jaar berig Willemse, ʼn bekende oudrugby- en -krieketspeler, is met twee skietwonde dood in sy huis aangetref. Verskeie dasse was ook om sy nek gebind.

Drie sibbe, van wie een lank vir Willemse op sy plaas, ook tussen Potchefstroom en Parys, gewerk het, staan op sy moord tereg.

Liebenberg is in 2011 deur haar tuinwerker in haar huis in Krugersdorp gemartel en vermoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Swerwer ·

Waarom weerlose Oumensies?????? Hoed gee pad uit jou pos en neem jou handlangers saam met jou sodat daar iemand bevoeg aangestel kan word en eerbare lede in die Polisiemag aangestel kan word.
Jy Hoed, het nou te vêr gegaan, hierdie mpoorde word voor jou deur gelê!

Misky ·

Die skrif is teen die muur!!! Daadwerklike optrede sal geneem moet word en so kan dit nie aangaan nie

Annamarie ·

Weereens n bewys dat die kastige “Curfew” net op ons mense van toepassing is, die res kan rond beweeg om te roof en te moor. Die wetsgehoorsame is tuis, en dan beweeg die skelm in.

JJB ·

Tannie Hantie vergestalt die Afrikaner sê gees van geloof, onafhanklikheid en dapperheid. Die gemors wat haar geskiet get vergestalt die vyand se boosheid en lafhartigheid. Tannie Hantie is in my gemoed ‘n heldin wat ‘n waardes-gedrewe bestaan gevoer het. Haar afsterwe is tragies, maar ek is oortuig sy is by die Here.

Hennie J ·

So sal hulle ons op geordende wyse uitmoor. RIV
Ons moet darem ook nou nie domastrant wees nie. Die tekens van n beplande aanval was duidelik.

JohanR ·

Die beplanning vir die 1996 aanval op my ouers is beplan in die compound op die plaas, en toe is twee van Johannesburg in gebring om die aanval te doen sodat die vermoede nie op die plaaswerker val nie. Na die tyd het hy gemaak asof hy niks weet nie. Die aanvallers in bebloede klere het na die aanval in ‘n minibus taxi gespring. My ouers het naar gelyk, maar my Pa het nog 12 jaar geleef en my Ma op 91 is nog met ons. Aan die liewe Ouma se ek rus nou in vrede, en alle sterkte aan Ouma se familie.

Dup ·

Die moord veldtog teen sekere lede van die bevolking gaan net onverpoos voort.Dit het nou ñ alledaagse gebeurtenis geword.

koos ·

Waar is die allerheiligste VN nou, die sogenaamde bewaker van menseregte en allerhande wonderlike soortgelyke goed? Het hulle al stappe teen Kanada gevat, na die ontdekking van die twee massagrafte van First Nation skoolkinders? FW de Klerk, voel jy trots op jouself, slaap jy en jou gewese kabinet rustig snags terwyl ons uitgemoor word, fisies en finansieël?

gatgogga ·

FW het nooit ooit iets gevoel vir my en jou nie, koos.
Jy sou dink dat hy, wat die argitek van ons ondergang is, darem so nou en dan iets in die openbaar sou se oor die toestand wat uit sy gierigheid ontstaan het.

ES ·

Dat een familie soveel tragedie moes beleef… Hartverskeurend!

Ek weet verseker, ek wil nie my laaste jare as bejaarde in hierdie land spandeer wat so vrot van korrupsie en misdaad is nie.

Sterkte aan die familie.

christo ·

‘n Spul lafaards wat die weerlose bejaardes aanval. Die saak sal ook net nog ‘n onopgeloste saak word.

Jack ·

Ongelukkig was sy soos die spreekwoordelike muis. Jammer sy het nie die gevaar ingesien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.