Vermoorde boer se matriekklas bied beloning aan

Werner Buchner is op sy plaas in die Oos-Kaap doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

Oudklasmaats van die vermoorde Oos-Kaapse melkboer Werner Buchner het byna R75 000 ingesamel as beloning vir inligting wat kan lei tot die suksesvolle vervolging van Buchner se moordenaars.

“Sy moord het ons uit ons skoene geruk,” het ’n oudklasmaat van Buchner Maandagmiddag namens die Hoërskool Brandwag in Uitenhage se matriekklas van 1984 gesê.

Die matriekklas – wat ná byna 40 jaar deesdae reg oor die wêreld versprei is – is sedert die begin van die Covid-19-pandemie weer in kontak met mekaar deur middel van ’n WhatsApp-groep. Van die klasmaats het nooit met mekaar kontak verloor sedert hulle in 1984 matriek geskryf het nie.

Die klasmaats het sedertdien weer ’n hegte band gevorm en was eers diep geskok en toe woedend ná die moord op Buchner, wat glo ook aktief op die WhatsApp-groep betrokke was.

Buchner is verlede Sondag op sy melkplaas naby Gqeberha (Port Elizabeth) doodgeskiet. Sy volwasse seun is ernstig gewond in die aanval, terwyl sy vrou erg aangerand is in haar poging om haar teen die aanvallers teë te sit en haar man en seun te beskerm.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die aanval nie.

Die oudklasmaat sê die idee van ’n beloning vir inligting is kort daarna gebore uit ’n diepe afsku vir al die plaasmoorde in Suid-Afrika.

“Werner was so naby aan ons en ons wil nie hê dat hy ’n statistiek moet word nie. Baie van ons het op plase grootgeword en ’n groot groep van ons was saam in die koshuis. Werner was hoofseun van die seunskoshuis in die jaar wat ons gematrikuleer het.

“Hy het soveel vir sy gemeenskap beteken. Hoekom gebeur hierdie sinnelose dade?” vra die betrokke klasmaat namens die matriekgroep.

Buchner sal volgens die klasmaat onthou word as ’n “ikoon”.

“Hy was altyd so positief, veral oor Suid-Afrika. Een van die goed wat hom veral geïrriteer het, was as iemand negatief oor ons land gepraat het… Hy was mal oor musiek, gholf en ’n goeie whiskey. Ons het almal intussen ’n whiskey op hom gedrink. Hy sou daarvan gehou het.”

Voornemende skenkers betaal nog nie die kontant oor nie, maar dui slegs aan dat hulle ʼn bepaalde bedrag tot die beloning wil bydra, aangesien die beloning eers sal uitbetaal wanneer die moordenaars skuldig bevind en gevonnis is.

Ondernemings om te skenk, kan aan die matriekgroep by [email protected] gerig word.

Sers. Majola Nkohli, woordvoerder van die polisie, het vanoggend aan Maroela Media gesê die polisie het nog geen deurbraak gemaak in sy ondersoek na die moord nie.

Buchner se seun, Werner, en vrou, Estelle, is intussen uit die hospitaal ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Mag sy moordenaars spoedig vasgetrek word en spoedeger op borg vrygelaat word want dit is hoe dit gaan in vrot Suid Afrika.Nog geen woord van veroordelings deur hoedman nie,Geen taakspan om die uitvaagsels te arresteer nie.Was die skoen aan die ander voet sou jy hoedman se bek gehoor het.Rus sag Werner.Here vertroos sy familie in hierdie hartseer tyd.

Jerry ·

As jy die nuus lees wil jy jou polse sny, SA het ontaard in n slump… Jou lewe is niks werd nie met geen toekoms vir wit mense.

Inkpot ·

Boeweland, soos ‘n leser tereg opgemerk het.
Dis heel gepas vir ‘n nuwe naam vir Suid-Afrika.

Blomme ·

Hoe is dit moontlik dat die skurke net in die niet verdwyn na hul misdade?

Charl ·

Bring terug die doodstraf en maak voorbeelde van hierdie gemors !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.