Vermoorde boer van Alexandria was blind

Chrisjan van Niekerk (Foto: Verskaf)

Twee broers wat vermoedelik verantwoordelik is vir die moord op Chrisjan van Niekerk (71) op ’n plaas buite Alexandria in die Oos-Kaap, is etlike ure daarna deur lede van die gemeenskap en polisie vasgetrek. Van Niekerk se liggaam is Saterdag ná 18:00 in die plaaswinkel op die plaas Nooitgedacht buite Alexandria gekry. Hy was feitlik heeltemal blind.

Die spanwerk en die vinnige reaksie van plaaslike boere, gemeenskapslede, die buurtwag, die plaaslike polisie en die Port Elizabeth-polisie se honde-eenheid het daartoe gelei dat die twee broers ʼn paar uur ná die voorval vasgetrek is.

Marius Muller, nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, sê dié betrokke partye het Saterdagaand onverpoos gewerk om die omgewing te fynkam. “Lede van die plaaslike buurtwag het met hul nagsig-hommeltuig ingespring en gehelp om die verdagtes op te spoor,” sê hy.

Die twee broers, onderskeidelik 23 en 16 jaar oud, is Sondag om 08:00 sowat 15 km van die plaas vasgetrek. Hulle sal na verwagting vandeesweek in die Alexandria-landdroshof verskyn op aanklagte van moord.

Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, het gesê die vinnige inhegtenisneming is weereens ’n bewys hoe goeie samewerking op grondvlak vrugte kan afwerp. “Ons wil alle boere en lede van die polisie bedank, wat hul tyd opgeoffer het om die verdagtes vas te trek,” sê Geldenhuys.

Maroela Media het vroeër berig een van die gemeenskapslede het Saterdagmiddag op Chrisjan se bebloede liggaam afgekom toe hy benodigdhede by die plaaswinkel wou gaan koop. Die winkel se deur was met die persoon se aankoms oop, hoewel die veiligheidsdeur gesluit was.

“Toe niemand op die kliënt se roep reageer nie, het hy by die winkel ingeloer en ’n bebloede hand onder die toonbank sien uitsteek,” vertel Govender.

Christine van Niekerk, Chrisjan se skoonsuster, vertel hy is al telkemale in sy winkel aangerand, maar het soontoe gegaan omdat hy dit as sy persoonlike ruimte beskou het. “Hy het ten spyte daarvan nogtans geglo dat God na hom omsien,” vertel Christine.

Sy sê dit is nog nie duidelik hoe die persoon in die winkel ingekom het, hoe Chrisjan vermoor is of wat die motief vir die moord was nie.

“Chrisjan was ’n familieman. Hy was baie lief vir sy medemens. Sy geloof in God was onwrikbaar,” vertel Christine.

Christine sê hoewel Chrisjan gesukkel het om te sien, het hy steeds voluit probeer boer. Hy het ’n beeskudde gehad wat hy self bestuur het. Sy beginjare as boer was gekenmerk deur sy hoender- en groenteboerdery.

“Boerdery loop in sy are. Hy was self so lief vir die plaas. Hy het nooit kans gesien om dit ooit te verlaat nie. Hy het altyd gevra: ‘Wat gaan van my word in ’n aftreeoord? Wat sal ek met myself doen? Die plaas is my liefde en my tuiste.’”

Christine se kleindogter, Danelle Griesel (20), het in ’n brief aan haar oom Chrisjan geskryf hoe ’n sagte hart hy gehad het en hoe almal hom geken het.

Geldenhuys sê veral boere moet meer georganiseerd reageer ten tyde van die Covid-19-pandemie.

“Ons glo die Covid-19-pandemie het ’n negatiewe uitwerking op die polisiediens, spesifiek in gevalle waar polisiestasies gesluit word weens positiewe Covid-19-gevalle. Ons moet in ag neem dat dié situasie deur misdadigers en plaasaanvallers uitgebuit kan word omdat polisiemanne nie noodwendig beskikbaar is om misdaad te bekamp nie,” sê Geldenhuys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Alet ·

Rus in vrede oom Chrisjan… My hart bloei vir die tannie. Wel gedaan aan die mense wat die 2 moordenaars help vang het.

Genis ·

Liewe land! Wanneer stop die gemors…dit maak mens boos verby…

Plaaskind ·

O nee my hart kan dit nie hou nie – dis so HARTSEER. Lafhartige skuimbolle wat sulke sagte teikens kies. Jammer oom om te hoor dis hoe jou lewe moes eindig. Baie sterkte aan die familie en geliefdes.

Peetjie ·

16 jaar oud!!! En jy vermoor n amper blinde persoon. As julle regtig honger was is ek seker die oom sou vir julle iets gegee het om te eet, maar nee – julle moord en selfsug het die oorhand gekry. Ek hoop jy en buti vrot in die tronk. Dankie aan die gemeenskap wat uitgegaan het en die skuldiges gou kon opspoor…

Stofdonkie ·

Nee, die polisie is mos net besig om rokers te vang en winkels te probeer keer om sigarette te verkoop. Hulle het nie nou tyd om boere op te pas nie, dan gaan mense dalk rook. Ag die land is ‘n sirkus. Cyril ramaphosa voel net mooi niks vir die boere wat so aangeval word nie, die padda kook mos nog in die pot.

ES ·

Moor al op 16. Dis wat met die land verkeerd is. En daar is nie geregtigheid nie. Want as hy “lewenslank” tronk toe gaan, gaan hy nogsteeds ‘n jongman wees as hy uit die tronk kom.

Kokerboom ·

In Afrika beteken ‘n lewe niks. Hoe siek is die psige van baie mense in SA nie. En die ANC blaas dit aan

Hennie ·

Wonderlike werk deur die gemeenskap! Net jammer dit sal nie oorledene weer terugbring nie…Vrede en genade vir die familie.

J ·

My innige simpatie aan die familie en vriende met die groot verlies!

Bewapen en verdedig jou SELF … niemand anders gaan jou beskerm nie.

Dit gaan net vererger!

Leon ·

En die moordenaars sal met ‘n R10 borg terug wees in die gemeenskap om verder te moor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.