Vermoorde dominee: ‘Jesus huil saam’

‘n Foto van ds. Liezel de Jager en haar gesin wat gedeel is tydens die gedenkdiens.

“Liewe mamma, ek hoop dat jy veilig is daar by God en dat jy nie enige seer voel nie. Ons mis jou baie en ons is baie hartseer dat jy weg is, maar dit is orraait om hartseer te wees. Ons sal jou vir altyd onthou en vir jou lief bly.”

Só lui ʼn huldeblyk deur ds. Liezel de Jager se oudste dogter wat Dinsdag tydens haar roudiens voorgelees is.

Familie en vriende van De Jager het Dinsdagoggend by die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti in KwaZulu-Natal byeengekom om hulde te bring aan hul “geliefde sonskynkind, liefdevolle suster en mamma”.

De Jager (38) se liggaam is Woensdagoggend omstreeks 07:00 op die erf van die pastorie in Dan Pienaarweg aangetref. Haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref. Sy het wurgmerke aan haar nek gehad.

Haar man, Werner de Jager (43), hulle dogtertjies, Ila (8) en Lané (10), haar ouers, Henk en Salomé, asook haar susters was teenwoordig tydens die emosionele gedenkdiens. Lané het tydens die diens saam met haar pa ʼn kers vir haar ma op die verhoog aangesteek.

Ds. Marius Schoombie van die NG Kerk Suidkus-gemeente het die diens gelei. “Ek het nooit in my wildste nagmerries gedink dat ek hier gaan staan om afskeid te neem van iemand vir wie ons almal so lief is nie. Iemand wat van ons weggevat is op ʼn onregverdige, wrede manier,” het hy gesê.

“Vandag het ek nie woorde nie. Aan Liezel se familie – vandag is ons hier om saam met julle te huil. Ons weet ook dat Jesus vandag saam met ons huil,” het hy bygevoeg.

Aanwesiges het die geleentheid gekry om kerse voor in die kerk aan te steek ter nagedagtenis aan De Jager.

Hoewel Werner nie self gepraat het nie, het ds. Herman Coetzee ʼn huldeblyk namens hom en die twee dogtertjies voorgelees.

Werner de Jager en sy dogter steek ‘n kersie aan vir ds. Liezel de Jager. (Foto: Skermgreep uit YouTube-video)

“My liefste lief, ek wens, nou te laat, dat ek vir jou meer briefies en gediggies geskryf het,” het Werner se huldeblyk gelui.

“Ek weet dat jy weet dat ek en ons meisies bitter baie lief is vir jou. Jou plek is leeg en ons gaan jou vir ewig mis. Woorde ontbreek ons gedagtes en lippe en ons wêreld is aan flarde geruk. Die gemis na jou is so intens maar ook so bedruk. Jy is nou waar jy al lank begeer om te wees – veilig toegevou en beskerm deur ons Heer. Weet ons almal mis jou en gaan jou nog jare mis.”

ʼn Emosionele Coetzee het ook die brief deur hul oudste dogter, Lané, voorgelees.

Daarby het Coetzee ook ʼn huldeblyk namens die res van haar familie voorgelees. “Jy was ons dogter en suster deur dik en dun. Een van jou wonderlikste gawes was om mense lief te hê en hulle te sien deur die oë van God. Ons sê nie vandag totsiens nie, maar tot weersiens. Vandag is jy waar jy altyd wou wees, al het dit vir ons net veels te vinnig gekom.”

Schoombie het vertel dat enigiemand welkom was aan De Jager se ruim kombuistafel. “Daar was geen swaarkry op hierdie aarde wat sy nie geglo het sy deur Christus beter kon maak nie. Daar het mense hier aangekom by wie ek verbygekyk het, maar Liezel het by hulle stilgesit.”

‘n Foto van ds. Liezel de Jager en haar gesin wat gedeel is tydens die gedenkdiens.

Ds. Francois Maritz het namens die KwaZulu-Natalse sinode gesê hy sal altyd De Jager se “uitbundige lag” onthou.

“Ons het Liezel leer ken as iemand met ʼn hart vir haar gemeenskap, iemand wat na altyd uitnemendheid gestreef het. Sy het nie net hier ʼn geweldige rol gespeel nie, maar wyer as die gemeente was sy van onskatbare waarde. Haar helder stem wat weerklink met skerp grappe, gevolg deur ʼn uitbundige lag sal inderdaad baie gemis word.”

De Jager het haar sowat drie jaar gelede by die NG gemeente Suidkus as leraar aangesluit. Dit is by dié kerk se pastorie waar sy egter Woensdag met wurgmerke aan haar nek aangetref is.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie in KwaZulu-Natal, het Dinsdag aan Maroela Media gesê niemand is nog in hegtenis geneem vir die moord nie.

Mbele wou nie uitbrei oor die ondersoek en of enige verdagtes al geïdentifiseer is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chantel

Dis so hartseer, my hart is seer saam met daai klein dogtertjies.

Heinrich

Baie hartseer en so onnodig. Die duiwel se kinders loop los in SA, maar daar is ‘n spesiale plekkie vir hulle hierna.

Duwweltjie

Daar is nie woorde om hierdie tragedie te beskryf nie.

Samuel

Dit is ongelooflik hartseer om hierdie berig te lees. Sterkte en simpatie aan die naasbestaandes

Carina

Die diens was hartverskeurend. Met dit nou afgehandel, kan die arrestasie(s) nou begin inkom asb? Sommer vandag nog.