Vermoorde dominee se man skoonveld

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Die vermoorde leraar Liezel de Jager se eggenoot word nou vermis.

Werner de Jager is Sondag as vermis by die Brighton Beach-polisiestasie in Durban aangemeld.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, het Maandagoggend aan Maroela Media gesê Werner se skoonpa, Henk, het hom na bewering Saterdag omstreeks 10:00 vir die laaste keer gesien voordat hy die volgende dag as vermis aangemeld is.

Mbele het geen verdere inligting in die verband bekend gemaak nie.

Werner se verdwyning volg byna twee weke nadat sy vrou met wurgmerke aan haar nek dood by die NG Kerk Suidkus in Amanzimtoti se pastorie gevind is.

Niks van Liezel se besittings is tydens die moord geneem nie en haar selfoon en sleutel is onder meer langs haar liggaam aangetref.

Familie en vriende van Liezel het verlede Dinsdag (19 Oktober) by die kerk byeengekom om hulde aan haar te bring.

Werner en die egpaar se dogtertjies, Ila (8) en Lané (10), haar ouers, Henk en Salomé, asook haar susters was teenwoordig tydens die emosionele gedenkdiens.

Werner het nie self tydens die gedenkdiens gepraat nie, maar ’n huldeblyk namens hom en die dogtertjies is in die kerk voorgelees.

“My liefste lief, ek wens, nou te laat, dat ek vir jou meer briefies en gediggies geskryf het,” het Werner se huldeblyk gelui.

“Ek weet dat jy weet dat ek en ons meisies bitter baie lief is vir jou. Jou plek is leeg en ons gaan jou vir ewig mis. Woorde ontbreek ons gedagtes en lippe en ons wêreld is aan flarde geruk. Die gemis na jou is so intens maar ook so bedruk. Jy is nou waar jy al lank begeer om te wees – veilig toegevou en beskerm deur ons Heer. Weet ons almal mis jou en gaan jou nog jare mis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Anonymouse ·

Wel, hierdie wending het langer geneem as wat ek gedink het dit gaan neem.

Maggies ·

Misky jy het sowaar woord vir woord my gedagtes vasgevang. Ons sal daardie twee dogtertjies moet opdra in gebed.

Aai ·

Dit is dalk vir hom baie moeilik om sy vrou se dood te aanvaar sal maar sien wat kom uit hierdie uit.Pas daai mooi kinders op Here.

piet ·

Kan wees. Mens moenie te gou die gevolgtrekking maak dat hy betrokke was by haar dood nie.

Lubbe ·

Hy was al voorheen ook vermis, toe sy nog gelewe het. Hier gaan nog baie gebeur.

Johan ·

Saterdagoggend 10:00 nog gesien en Sondagoggend as vermis aangemeld? Hoe werk dit?

Celeste ·

Dalk vat die arme man net tyd Vir homself. Dalk is die man onskuldig.

Charmain ·

Sê dan net vir die reeds getraumatiseerde familie (en kinders) dat jy tyd nodig het…moenie net verdwyn nie!!!!

Jeffrey ·

n Afduimpie mag dalk gebeur omdat die persoon weet sy/haar kommentaar nie toegelaat sal word nie, die sensorskap hier is baie streng.

Santie Gildenhuys ·

Met suksesvolle vroue al meer op die voorgrond, gebeur dit al meer dat mans met ‘n lae selfbeeld en ‘n effens ongebalanseerde sosiale agtergrond, geleidelik ‘n gevoel van wrewel ontwikkel…Ek kan aan etlike voorbeelde van prominente vroue dink wie se eggenotes/kêrels letterlik of figuurlik die mat onder hulle uitgetrek het.

Waarnemer ·

Onskuldig tot die teendeel bewys word…dit is ons regstelsel….dalk het die man net n breek nodig of dalk is hy skuldig…wie is ons om te oordeel?

Jana ·

Werner, ek ken jou van geen kant af nie. Ek sê wat ek sê in die geloof dat jy niks met jou vrou se dood te doen gehad het nie. Miskien wou jy net wegkom van alles en almal af om wat gebeur het te verwerk. Maar asb gaan huistoe. Jou dogtertjies is ook getraumatiseer en nou dat jy nie daar is nie is dit erger vir hulle. Hulle het jou nodig, dit voel nie nou so nie maar jy het nog baie om voor te lewe. Hierdie voel soos die einde van jou wêreld maar onthou, baie ander mense is al ook hierdeur en hulle gaan aan. Die Here sal jou krag gee en jou hierdeur dra, stappie vir stappie. Ek weet nie eers of jy hierdie gaan sien nie, maar as jy doen hoop ek dit bemoedig jou om terug te gaan na die mense toe wat lief is vir jou.

Charl ·

?? Iets klink nie reg hier nie, maar dan weer, moenie te gou afleidings maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.