Vermoorde oud-onnie van Robertson môre finaal gegroet

Anna Oosthuizen. Foto: Facebook

Anna Oosthuizen. Foto: Facebook

Die geliefde oud-onderwyseres van Robertson in die Wes-Kaap wat Sondag grusaam in haar huis vermoor is, sal Vrydag begrawe word.

Anna Oosthuizen (80) is Sondag in die voorportaal van haar huis verskeie kere met ʼn mes gesteek. Sy is op die toneel dood. Phillip Oosthuizen, haar broerskind, het gesê ʼn booswig het glo toegang tot haar huis verkry deur ʼn venster in die sonkamer te breek.

“Sy was in haar kamer en het vermoedelik ʼn geluid gehoor en gaan ondersoek instel. Sy en die rower het mekaar seker toe in die voorportaal raakgeloop en hy het haar met die mes aangeval,” het Phillip gesê. ʼn Alarm het afgegaan wat die veiligheidsdienste ontbied het en die verdagte het probeer vlug. Hy het onder Anna se motor geskuil wat buite in die oprit gestaan het en is daar in hegtenis geneem voordat hy iets kon steel of van die toneel vlug.

Kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig.

Phillip het aan Maroela Media gesê sy tannie was ʼn oujongnooi wat nooit kinders gehad het nie. “Sy het omtrent die afgelope 40 jaar op Robertson gewoon en verskeie van die inwoners was in ʼn stadium op die skoolbanke in haar klaskamer. Almal het haar geken en sy was baie geliefd.” Hy het gesê sy tannie was selfs op haar oudag nog baie aktief en het gereeld fiets gery en gekampeer.

“Sy was ʼn hardkoppige mens, maar in die goeie sin van die woord. As sy besluit het sy wou iets doen, het sy dit gedoen. Sy was ʼn sterk vrou, maar altyd liefdevol en sou enigiemand help waar sy kon. Sy het alles gegee vir haar gemeenskap en vriende en nooit teruggestaan vir ʼn uitdaging nie.”

Anna sal Vrydag om 13:00 uit die NG kerk Robertson-Oos begrawe word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yoli ·

Dis verskriklik hartseer, om 80 jaar lank op die planeet te leef, alles te oorleef wat die lewe vir haar op haar pad gestuur het, en dan op so wrede manier te sterf…hoe wreed is die land nie.
Geen respek vir enige iets nie, geen vrees vir enige iemand of iets nie. Maak dood en steel soos hulle wil, en ja die ou is gevang en more is hy uit op borg vir R300..want siestog hy het nie baie nie en R300 is vir hom baie….hoe baie meer werd is die lewe van die ou tannie nie…
Ek dink so aan die familie en vriende van die tannie, en bid vir vertroosting en asook leiding vir die land.

Rieta ·

Ons Vader in die Hemel verlos ons van die bose vergewe ons van ons sonde wees ons genadig laat U wil geskied. Amen sterkte aan geliefdes.

Ernest ·

My simpatie aan die hartseer familie..! Sou ek ooit kon dink dat sulke daaglikse moorde in die eens gerespekteerde en gedissiplineerde land gepleeg word. Waar kom hierdie moordenaars vandaan wat so dig verspreid is ? Wat sit agter hierdie dade ? Mens sal daaraan moet begin dink om hierdie gebeure op sy naam te begin noem..!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.