Vermoorde oudpolisieman se oorskot gesteel

Argieffoto

Die beendere van ’n vermoorde oudpolisiebeampte (62) is uit die staatslykshuis in Standerton in Mpumalanga gesteel.

Die beendere is Vrydag as gesteel aangemeld nadat dit vir ondersoekdoeleindes by die lykshuis bewaar is.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê die oudpolisiebeampte se familie het hom in Oktober verlede jaar as vermis aangemeld. ’n Soektog na die slagoffer het egter niks opgelewer tot byna tien dae gelede toe ’n verdagte hom aan die polisie oorgegee het nie.

Sanele Msimang (26) het hom verlede Vrydag by die polisiestasie in Harrismith in die Vrystaat oorgegee in verband met die oudpolisiebeampte se moord.

Msimang het aangedui dat hy sy werkgewer verlede jaar in Standerton vermoor en sy oorskot in ’n vlak graf begrawe het. Msimang is in Harrismith in hegtenis geneem en later na Standerton vervoer waar hy Maandag die vlak graf aan die polisie uitgewys het.

Die slagoffer se oorskot is opgegrawe en vir forensiese toetse gestuur. Msimang het intussen Dinsdag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van moord en bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning. “Die polisie het egter terwyl hulle besig was met die ondersoek na die moordsaak, ontstellende nuus ontvang dat die [slagoffer se beendere] vermis word. ’n Saak van diefstal is dienooreenkomstig geopen met ’n bykomende klag van regsverydeling,” sê Hlathi.

Mense met inligting rakende die gesteelde beendere word versoek om konst. Lefa Tsotetsi by 066 0198 487 of Stop Misdaad by 08600 10111 te nader. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

jzjz05 ·

Hoe laag kan n mens daal,dit is ook n bewys dat daar nog persone betroke is by die moord.

Casper ·

Dit kon slegs iemand gewees het wat toegang tot die lykshuis het.Die lykshuise is nou by hospitale geleë en seder 2006 nie meer by polisiestasies nie.Die verdagte het ‘n erkenning gemaak en die lyk gaan uitwys.Ek glo die omstandigheidsgetuies sal ‘n skuldig bevinding moontlik maak.

Ovelia ·

Kan jy glo..nie eers jou beendere is meer veilig nie. Oe a a

Jakman ·

Dalk voorkom dat forensiese toetse ander bewyse kan lewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.