Vermoorde tiener se hart verwyder

Argieffoto

Die liggaam van ’n tienerseun is Sondag in ’n oop veld op Kroonstad in die Vrystaat gevind.

Volgens die polisie is die tiener vermoedelik vir moetie vermoor omdat sy hart en geslagsorgaan verwyder is.

Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het twee mans omstreeks 10:45 brandhout in ’n oop stuk veld in die nywerheidsgebied van Kroonstad gesoek. Hulle het op die tiener se liggaam in ’n vlak graf naby ’n ou kragstasie afgekom.

“Die mans het langs die treinspoor geloop toe hulle ’n boomtak op die grond sien. Hulle het ondersoek gaan instel en gesien die grond onder die tak sak in,” bevestig Makhele.

“Hulle het die tak en grond weggeskraap en twee plastieksakke en ’n mens se hand het uit die grond gesteek.”

Die mans het die polisie in kennis gestel en die liggaam van ’n tiener, tussen die ouderdom van 17 en 19 jaar oud, is opgegrawe.

“Die liggaam is op sy rug in die vlak graf gevind. Hy het ’n wond aan sy voorkop gehad en ’n sny aan die maag. Sy hart en geslagsorgaan was ook verwyder.”

’n Skerp wapen en stokke is in die graf langs die liggaam gevind.

“Volgens voorlopige inligting is die tiener Saterdagaand vermoor en begrawe.”

Die polisie ondersoek ’n saak van moord. Niemand is nog in verband met die tiener se dood vasgetrek nie.

Enigiemand met meer inligting oor die voorval kan lt.kol. Mabuti Moremoholo by 082 372 1436 skakel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Porseleintjie ·

Liewe genade. Hoe siek en waglik moet ienand wees om dit aan ‘n ander te doen???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.