Vermoorde vrou dalk deur lewensmaat aangerand

Fotos van Namhla Mtwa wat op sosiale media gedeel word. (Foto: Facebook)

Die moord verlede maand op ʼn vrou in die oprit van haar huis in die Oos-Kaap het opnuut skokgolwe oor dié provinsie gestuur. Dít nadat bewerings op sosiale media die ronde gedoen het dat dié vrou moontlik voor haar dood deur haar lewensmaat aangerand is.

Singwa Namhla Mtwa (35) is na bewering op 21 April in haar motor doodgeskiet toe sy by haar huis in Mthatha aangekom het. Volgens die polisie is sy in haar bolyf geskiet en op die toneel dood verklaar.

Meer as ʼn maand later is niemand nog vir haar moord in hegtenis geneem nie. Die slagoffer se suster het haar Vrydag tot sosiale media gewend en foto’s van haar suster se beserings en gesprekke met familielede voor haar dood gedeel, wat daarop dui dat dié beserings deur haar jare lange lewensmaat toegedien is. Die beelde is intussen wyd versprei met die hutsmerk #JusticeforNamhla.

“Die polisie neem hierdie voorval baie ernstig op en het ʼn topbestuurslid aangestel om die ondersoek na die moord te lei,” het brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder van die Oos-Kaap, Saterdag gesê. “Speurders is deurlopend in verbinding met haar familie om terugvoer te gee oor die ondersoek.”

Kinana sê die polisie is oortuig daarvan dat ʼn deurbraak in die saak binnekort gemaak sal word, en het lede van die publiek aangemoedig om inligting aan te meld wat die polisie in hulle ondersoek kan help.

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap, het nou ook gevra vir spoedige optrede teen wie ook al verantwoordelik is vir Mtwa se moord, asook die klaarblyklike aanranding voor haar dood. “Iemand moet antwoorde gee vir die gewelddadige dood van hierdie vrou. Ons moet ook antwoorde kry op die beelde wat ons die afgelope 24 uur gesien het, wat wys dat hierdie vrou voor haar dood aan barbaarse optrede blootgestel is.”

Hy het Mtwa se vriende, familie en lede van die gemeenskap gevra om wetstoepassers te ondersteun in die ondersoek na dié misdade.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wondermaarnet ·

Geen vrou moet deur sulke trauma gaan deur aangerand te word nie. Hoop hulle vang die skuldige gou wat haar geskiet het.

miche ·

Die Regering moet ook asseblief soveel simpatie toon teenoor ons verswaktes en bejaardes wat so verskriklik aangerand, papgeslaan, verwurg, verbrand, verkrag en vermoor word.
En hul dood behoort ook soveel blootsteloing en media-aandag te kry.

Kensy ·

Alle vroue wat aan geweld in hulle verhoudings blootgestel word moet besef- wat met die vrou gebeur het, kan ook met hulle gebeur.
LOS DIE VARK voor ons van jou lees!!
Gaan praat met iemand wat jou kan help om uit die verhouding te kom!
NEE.. hys nie jammer nie….. en NEE hy gaan nie verander nie!

KatjieDeKat ·

Dis waar. Ek het n paar maande gelede erger as sy gelyk. I looked like the survivor of a plane crash. Dis Na ek reeds die egskeiding begin het. Die Barberton polisie het nie belang gestel om my te help nie. Gelukkig is ek darem nou geskei en woon elders.

Kensy ·

Ek is baie bly jy was dapper genoeg om daai stap te neem. Ek hoop die een wat dit aan jou gedoen het is al in die tronk.
Mag jy n wonderlike man ontmoet wat jou uit jou skoene uit gaan bederf en wys wat n ware man moet doen.
EKS TROTS OP JOU!

Misky ·

Bly jy is uit daai ongesonde verhouding Julia. Dit kan net beter gaan vorentoe, alle sterkte en voorspoed vir jou.

TRP ·

Genade, kon daar nie iets vir haar gedoen word voor haar dood? Dit is duidelik dat hierdie arme vrou deur hel en terug is. Mag haar moordenaar aan die pen ry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.