Vermoorde VSA-vrou se oorskot terug huis toe

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Die familie van Gabriela Alban, die Amerikaanse vrou wie se liggaam vroeër vandeesmaand in ’n luukse boetiekhotel in Kampsbaai gevind is, het almal wat hoflikheid en vriendelikheid teenoor hulle in Suid-Afrika betoon het, bedank.

Diego Dougherty Novella, ʼn 41-jarige man van Guatemala, is in verband met haar moord in hegtenis geneem.

Staatsaanklaer Carmen Daniels het verlede week tydens Novella se hofverskyning gesê die staat het ʼn sterk saak teen hom.

Alban se familie het in ʼn verklaring hul dank uitgespreek teenoor verskeie mense onder wie die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, verskeie polisiebeamptes in Kampsbaai en personeel van die Amerikaanse konsulaat in Kaapstad.

William Booth, Novella se regsverteenwoordiger, het verlede week gesê mediaberigte wat beweer dat Novella en Alban in ʼn dwelm-aangevuurde sekssessie betrokke was toe Alban vermoor is, is pure bespiegeling. Alban se familie het in hul verklaring gesê: “Gaby was ʼn geliefde, slim, aantreklike en suksesvolle vrou met ’n skoon lewenstyl. Sy was ’n vreugde vir haar familie en vriende, almal sal haar ontsettend mis.”

Volgens die familie is Alban se liggaam terug na Los Angeles geneem waar sy volgens Joodse tradisies begrawe sal word. “Ons is gereed om so gou moontlik, en so dikwels as nodig, na Kaapstad terug te keer ten einde geregtigheid vir Gaby te kry.”

Klik hier vir alle vorige berigte oor Gabriela Alban op Maroela Media.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.